GRAAFF-REINET NUUS - Die skoolgemeenskap in Graaff-Reinet is geskok oor die dood van 'n geliefde onderwyser Roelof Liebenberg (46), ná 'n skielike hartaanval.
Liebenberg het groot aansien as rekenkunde onderwyser by Spandau Sekondêr geniet en sy matriekklas van 2020 het 'n 85%-slaagsyfer in dié vak behaal, 'n prestasie waarop hy baie trots was.
In 'n huldeblyk het mnr. Eugene Mackelina, skoolhoof van Spandau Sekondêr, aan Graaff-Reinet Advertiser gesê hulle is diep geskok en hartseer om 'n onderwyser van Roelof se kaliber só skielik te verloor.
"Ek is sprakeloos. Dis werklik skokkende nuus om van sy ontydige afsterwe te hoor. Spandau het 'n bate verloor en dit gaan bitter moeilik wees om 'n plaasvervanger in sy plek te kry.
"Dis nie nou die regte tyd om mens hieroor te bekommer nie, maar dit gaan beslis nie maklik wees om weer só 'n puik rekenkunde onderwyser in die hande te kry nie. Onderwysers wat opgelei is om met syfers te werk, is skaars. Daarbenewens moet mens 'n opvolger in die hande kry wat bereid sal wees om na Graaff-Reinet te verhuis en dit kan dinge bemoeilik.
"Roelof was 'n besondere gewaardeerde en geliefde kollega onder sy mede-onderwysers en sy leerders en het groot respek afgedwing. Hy was 'n allemansvriend, maar terselfdertyd ook baie nederig. Sy soort is dun gesaai.
"Ons gedagtes gaan uit na sy familie. Ons wens hulle sterkte toe in dié hartseertyd."
Roelof was mal oor sport en die buitelewe. Hy het muurbal, gholf en ook graag vlugbal saam met sy mede-onderwysers gespeel.
Teen druktyd was besonderhede oor sy begrafnis nog nie bekend nie.
Roelof Liebenberg, by hom is sy seun, Roelof (13).
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'