ABERDEEN NUUS - Aberdeen Vollediens Skool se personeel en skoliere het Dinsdag, 18 Julie, die nasionale tradisie van 67-minute vir Madiba behoorlik uitgeleef.
Onderwyser Talana Verwey sê allerhande lekkernye – van kolwyntjies tot vrugte – is deur die personeel, assistente en koshuispersoneel geskenk.
Geskenkpakkies, elk met 67 items, is opgemaak vir die personeel van die plaaslike ouetehuis, polisie, hospitaal en kliniek en leerlinge het bedankingsbriefies gerig aan die instellings.
Onder leiding van die onderwysers het die gr. 6- en 7-leerlinge die hospitaal
besoek; die gr. 4- en 5-leerlinge die polisiestasie; die gr. 1-, 2- en 3-leerlinge die ouetehuis; en die leerlingraad die kliniek.
By hulle aankoms het die leerlinge telkens vir die personeel liedjies gesing, hulle bedank vir hulle diens en is die briefies en geskenkpakkies oorhandig.
Verwey beskryf die inisiatief as suksesvol, vreugdevol en 'n geleentheid wat die kinders sal onthou. "Ons leerlinge besef hoe belangrik dit is om dankie te sê en hulle doen dit graag."
By die kliniek is daar lekker gesing.
Leerlinge verras die ouetehuis met sang. Foto: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’