RUBRIEK - Ek vra oom Klaas: "Dit raak die einde van die jagseisoen en oom het nog niks vertel oor jag nie?"
Hy gee my 'n ongedurige kyk: "Jong, net omdat jy 'n bok KAN skiet, beteken nie jy MOET hom skiet nie.
"Dis al wat ek oor jag wil sê."
Oom Klaas kyk die verte in; sug en skud sy kop.
"Kyk, ek kom mos uit die tyd toe jag anders was as wat jag vandag is. En ek wil nie daaroor praat nie, want elke ou jag sy jag en dis reg.
"Maar kom ek sê jou só: waar ek vandaan kom, het jy jou voete gevat en veld in gestap en jou pot se kos geloop soek. As jy die bok gekry het, het jy hom laat verstaan jy is daar om van hom kos te maak. So, die bok het kans gehad om jou in die oë te kyk en dan was dit 'n kwessie van is dit jy of is dit hy. Gelyke kanse. Jy het presies geweet wat jy doen wanneer jy aanlê en daai sneller trek. Jy het nie geskiet oor skiet skiet is en omdat jy dan nou 'n fênsie wapen het met knaldemper en teleskoop en die duiwel weet wat nog se kanniemis-fieterjasies nie.
En jy het nie geskiet totdat daar nie meer iets oor was om te skiet nie – vanmelewe het 'n man geskiet wat jy werklik nodig gehad het en die res van die tyd het jy in verdraagsaamheid met die natuur saam gelewe. Maar soos ek seg, laat ons nou nie vandag op daai spoor loop verdwaal nie.
"Die ding oor jag op die manier wat ek jou vertel, is jy raak een met die veld. Jy loop met jou oë en ore wawyd oop en jy maak nie onnodige geraas nie – jy trap weet-weet. En dan, wanneer jy jou prooi vind; dan is dit jy en hy. En dis net julle.
As jy wakker is en fyn genoeg getrap het, sal jy tyd hê om eers jou prooi deur te kyk. Soms, net soms, veral as dit 'n ervare koedoebul is, speel hy saam: hy laat jou glo hy weet nie jy is naby hom nie, maar o, hy weet! O, hy WEET. En vir 'n kort stonde in die ewigheid van tyd raak dit 'n fyn spel tussen jagter en prooi ... en dan, met die adrenalien wat pomp, die bloed wat deur die are bruis en die asem kort in die keel, is dit die raaksien van mekaar; die momentele meet en oorweeg: vlug die prooi of skiet die jagter. Dikwels sal die gesoute jagter sy wapen laat sak, want daai koedoebul gaan hom klop. En DIS die kern: 'n respektabele, gesoute jagter skiet nie net omdat hy KAN skiet nie.
Gereeld is die beste jagter die een wat NIE skiet nie omdat hy weet hy mag dalk kwes.
"En weet jy, eintlik is ons mense maar almal jagters en prooi in die lewensveld. Elke individu is dikwels 'n jagter met ander mense die prooi. Die hele proses van soek na wild, dit vind en dan die besluit om te skiet of nie, is ons interaksie met ander mense. Hoeveel keer is daar nie argumente waar die een ou die ander een absoluut uithaal by die enkels nie? Om oortuigend van 'n ander ou te kan verskil – of dit nou jou gade, vriend, buurman, werktuigkundige, bankbestuurder, predikant of skuldeiser is, maak nie saak nie – om van 'n ander te kan verskil en hom met oortuiging uit te haal in 'n redenasie of argument, is gatskoplekker.
Wie hou nie daarvan om "reg" te wees nie? Veral as die ander ou verkeerd bewys word.
"Maar ek kan vandag vir jou sê, het jy lank genoeg in die veld gestap; het jy genoeg bokke al in die oë gekyk en hulle dan suksesvol geklits; die lewe sien wegsypel uit daardie selfde oë wat 'n oomblik gelede nog joune gelyk gemeet het … hmmm, dan raak jy toenemend minder lus vir wild se vleis. Om 'n ander te uitoorlê, verloor sy bekoring. Wat ek sê: so met jare se ervaring - en hopelik wysheid en insig - raak 'n man al traer om 'n argument te voer net omdat daar 'n argument te voer is; jy raak minder begerig om 'n ander wat waarskynlik minder insig as jy het, 'n les te leer en te bewys as verkeerd. Jy weet mos wat jy weet; jy weet mos jy KAN skiet – beter nog, jy weet mos jy SAL raak skiet."
Oom Klaas staan 'n oomblik stil en dan gee hy 'n stout glimlag: "Maar my maat, daar is een helse verskil tussen 'n geelslang en 'n springbok, net soos 'n stormende leeu lank nie 'n koedoe is nie! En EK laat sak nie my geweer vir 'n slang of 'n leeu nie!
"Kom ons loop kyk of daar al 'n stukkie droë biltong is..."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’