Gallery Video
GRAAFF-REINET NUUS EN VIDEO - Twee organisasies, Save the Sheep en Gift of the Givers, het groot verligting met voer en waterskenkings vir klein- en gevestigde boere in die Graaff-Reinet-distrik gebring.
Die boere was oorstelp van vreugde toe 13 trokke Dinsdag 15 Oktober met die voer en water die dorp binne ry.
Kosie Adams het namens kleinboere van die omgewing die stigter van Gift of the Givers, dr. Imtiaz Sooliman, asook Jan en Sybil Visagie, stigters van Sutherland se Save the Sheep-organisasie, bedank vir die skenking. "Die voer is soos manna uit die hemel," het hy gesê.
Adams het aan die Advertiser gesê die kleinboere is te veel op een stuk grond. Hy het die regering gevra om te sorg dat elke kleinboer sy eie grond kry, waar hulle hul boerdery kan uitbrei.
"Soos ons nou boer is daar baie vee op een plaas en ons kan nie reserwes opbou nie. Ons kan nie weiding toepas soos dit gedoen moet word nie en ook nie voer bêre op 'n maand-tot-maand basis nie. Ons moet in 'n baie moeilike tyd veg vir oorlewing."
Adams is egter positief dat dit binne die volgende paar weke gaan reën. "As dit nie gebeur nie, beteken dit dat kleinboere maar kan oppak en toemaak," het hy sy vrees uitgespreek. Volgens Adams sal die kleinboere nie nog drie tot ses maande oorleef met wat hulle nou tot hul beskikking het nie.
Kyk 'n video hieronder:
Gift of the Givers se bestuurslede, Ali Sabley (projekbestuurder), Dr Imtiaz Sooliman (stigter) en Dr Gideon Groenewald (geoloog). Foto's: Christo Vermaak
Johannes van Rensburg, 'n Afrikaner- en Boran beesboer op die plaas Rynheath buite Graaff-Reinet, sê boere se voer- en geldreserwes is op. "Ons veg vir oorlewing. Meeste boere in die omgewing het bykans 'n derde van hul vee verloor."
Intussen is die Gift of the Givers steeds besig om boorgate by skole in Graaff-Reinet te boor. Agt gate is al suksesvol voltooi, waar water-opgaarhouers nou geïnstalleer word.
Sooliman het gesê hulle sal binnekort ou boorgate begin herstel en na laerliggende dele van die dorp beweeg om verder te boor.
Meeste van die boorgate word tot tussen 120- en 160 meter gesink.
Johannes van Rensburg, 'n Afrikaner- en Boran-beesboer.
Kosie Adams, woordvoerder vir die kleinboere.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'