Gallery Video
MURRAYSBURG NUUS EN VIDEO - Mooi, vet en gesonde diere; dít is waarvan Karoo-boere droom tydens die uitmergelende droogte. Tot die reën kom hekel Murraysburg boervrou Chrisma van der Merwe maar vet Karoo-skapies.
Aanvanklik was die projek net vir ekstra inkomste vir haar huishouding, maar nou skep dit hoop vir 'n hele gemeenskap.
"My eerste skapie het ek in Junie laasjaar gehekel," het Van der Merwe aan die Advertiser vertel. Sy het nog dieselfde dag 'n foto op facebook gesit, en toe navrae oor bestellings gekry. Só is die Fat Sheep-inisiatief gebore.
'n Vriendin, Sophia van Heerden, het Van der Merwe gehelp dié naam kies. Sewe maande en oor die 400 vet skapies later, hekel Van der Merwe nie meer alleen nie. In haar tuisdorp het sy agt dames wat help, in Beaufort Wes twee, een in Victoria-Wes, een in Graaff-Reinet en een in Elim.
Die dames wat help is, onder andere, Erna, Mien, Carine, Frieda, Jessica, Dorothea, Joey, Joyce, Eloize, Esme, Bibi en Marthie.
Man Dirk en seun Henry (5) help natuurlik ook! Dirk help bene stop en vaswerk, terwyl Henry help omdop. Van der Merwe verskaf die wol en penne aan haar helpers, en sommige van die vroue sorg dat die skapies veilig gepos word.
Daar is al reeds 'n hele paar troppe vet skapies in lande soos Amerika, Engeland, Duitsland, Nieu Zeeland en selfs Switserland.
"Sy het geen benul wat hierdie geleentheid vir my beteken nie," het een boervrou wat ook help hekel oor die projek gesê. "Ek het nie geweet hoe ek die volgende winter gaan deurmaak nie, toe kom sy met haar Karoo-skapies."
Kyk 'n video hieronder:
Buiten werkskepping sê Van der Merwe dat die hekel-proses ook terapeuties is. "Net om soggens op te staan en 'n rede te hê om deur die dag te kom. Dit hou jou kop en hande besig, en dit is so lekker om 'n foto van iemand se seuntjie of dogtertjie te sien met 'n vet skapie.
"Dit gee 'n mens sommer moed."
Haar raad aan mede-boervroue tydens die droogte is ook om moed te hou. "Klim in jou bed, huil jou hart uit, maar staan weer op en glo. Staan by jou man; hulle lyk taai, maar hul harte huil stilweg."
Om by hierdie projek betrokke te raak of om 'n bestelling te plaas, kontak Chrisma van der Merwe by 071 507 4993 of chrismadt@gmail.com.
Dié vet skapie, met liefde gehekel in die Karoo, sal binnekort aan 'n nuwe eienaar elders gepos word.
'Ons bring jou die nuutste Murraysburg, Karoo nuus'