Update
WILLOWMORE NUUS - Die moord op 'n 8-jarige seuntjie, Nelson Blou van Willowmore, verlede Donderdag, 1 Desember, het hierdie Karoo-dorpie tot in sy fondamente geskud.
Bedroefde gemeenskapslede het Vrydagaand buite die Blou-woning bymekaargekom vir 'n kersliggedenkdiens om hul medelye aan die gesin te betoon.
Menige het die insident veroordeel en hul ongeloof en hartseer uitgespreek.
Nelson se broer het hom verlede Donderdag in hulle huis met verskeie messteke aan sy lyf gevind.
Theresa Barnard, wat as voorsitter saam met Siphokazi Blou, ma van die oorledene, op die Support Centre for Land Change (SCLC) se Rural Women's Task Team dien, sê die moord het die gemeenskap van Willowmore op hul knieë gedwing.
"Die ding het ons hard geslaan. Willow-more is stukkend."
Sy sê die aanval is 'n raaisel. "Watter soort mens vermoor dan nou 'n 8-jarige kind?"
Volgens Barnard was Nelson en sy ouer broer alleen by die huis ten tyde van die voorval. Sy ouer broer het ongedeerd daarvan afgekom omdat hy glo op daardie stadium agter die huis met die hond gespeel het. Hy het na bewering op die toneel afgekom toe hy later die huis binnegekom het.
Hartverskeurend
Benita Zaayman, een van die lede van die Baviaans Land and Agrarian Reform Forum (BLARF) waarvan Siphokazi Blou ook 'n lid is, sê die gebeure in Willowmore is hartverskeurend. "'n Kleinboer se kind is wreed uit die lewe geruk. 'n Weerlose kind van net 8 jaar oud. Ek is regtig skoon siek van die skokkende nuus, want dit kan met enige van ons kindertjies gebeur," sê Zaayman.
"Dit is 16 days of activism, kan die gemeenskap nie bymekaar kom en iets doen om eens en vir altyd die geweld teen kinders en vroue hok te slaan nie?"
Zaayman is van mening dat die dwelmhuise uitgeroei moet word omdat dit is waar alles begin. "Geen mens by sy gesonde verstand kan so iets aan 'n pragtige onskuldige kind doen nie."
Tydens die opening van die PenM Productions Poetry Slam Saterdagaand, 3 Desember, in Willowmore, het Jefferson Dirks, boorling van Willowmore en stigter van PenM Productions, genoem dat hy graag wil hê dat almal die aand moet geniet, maar dat dit nie vir hom reg voel om voort te gaan met die geleentheid sonder om te praat oor Nelson van die Blinkdakke-buurt nie.
"Ek voel gebreek, ek het nog nooit so seergekry soos wat Willowmore nou vir my seergemaak het nie." 'n Duidelik gebroke Dirks het 'n oomblik van stilte aan Nelson gewy.
'Ons kan beter doen'
Plaaslike koördineerder van PenM Productions, Leaticia Stuurman, is van mening dat gemeenskappe beter kan doen in terme van omsien na kinders. "Ons lewe verby mekaar asof ons mekaar nie ken nie. Ons moet die outydse waardes van omgee en kyk na mekaar se kinders terugkry," sê Stuurman. "My kind is jou kind en jou kind is my kind. Ons móét na mekaar se kinders kyk."
Volgens raadslid Ewald Loock laat die feit dat hierdie kind aan meswonde beswyk het vele vrae ontstaan. "Kan dit wees dat daar 'n geestelike losbandigheid heers en dat drank en dwelms die gemeenskap soos 'n kanker deurtrek het, so erg dat selfs die kerke en SAPD onmagtig is om iets daaraan te doen? In plaas daarvan om almal wat voorkom die skuld te gee vir hierdie onsinnige moord, moet elke ouer, kind, onderwyser, kerklidmaat, polisielid, staatsamptenaar, politieke leier, en selfs die stoepsitters, hulself die vraag afvra: 'Wil ek deel van die probleem wees of wil ek deel van die oplossing wees?' Slegs na só 'n evaluering sal dit moontlik wees om te bepaal of daar 'n wil in die gemeenskap van Willowmore is om wat tans in ons gemeenskap gebeur effektief aan te spreek."
Die ma van die vermoorde seuntjie, Siphokazi Blou, het aan Graaff-Reinet Advertiser gesê Nelson se begrafnis sal eerskomende Saterdag plaasvind, maar die tyd en plek moet nog bevestig word. Sy is op hierdie stadium te emosioneel om oor die voorval te praat.
Die polisie se provinsiale woordvoerder, adjudant-offisier Majola Nkohli het aan joernalis Bradley Rawlinson gesê die polisie volg steeds leidrade op en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.
Vorige artikel: Willowmore Police investigate death of child
'n Duidelik gebroke Jefferson Dirks, noem dat hy nog nooit so seergekry het soos wat Willowmore hom nou seergemaak het nie
Gemeenskapslede Vrydagaand buite die Blou-woning. Foto: Chriszanne Janse van Vuuren
'Ons bring jou die nuutste Willowmore, Karoo nuus'