HOFMEYR NUUS - Altesame ses swerms sprinkane was teenwoordig in die onmiddelike omgewing rondom Hofmeyr in een stadium tussen Kersfees en Nuwejaar, en selfs daarna.
Baie hektare weiding op my plaas en aangrensende plase is opgevreet deur hierdie swerms," vertel Matt Philps, 'n boer van die Hofmeyrdistrik.
Matt en sy eggenote, Hannatjie, het ook moeite gedoen om die almal op hoogte te hou met video's van waar die swerms hul bevind.
Sprinkane wat so trek is die Bruin Afrika-treksprinkaan en hulle rig baie skade aan. Hul broei uit van 10-20 mm reën, as die temperatuur reg is. Soms bly daar eiers oor en dit broei eers later uit, soms eers agt tot 10 jaar later.
Vanaf die uitbroeistadium gaan die sprinkaan deur vyf ontwikkelingstadiums wat elkeen 11 dae duur en hulle vervel elke 11 dae. Sprinkane is binne twee maande eers volwasse. As volwassenes leef hul nog 78 dae, rofweg 3 maande.
'n Sprinkaan leef 133 dae. As volwassene is 'n sprinkaan op sy gevaarlikste.
Elke volwasse sprinkaan lê in die laaste ses weke van sy lewe ses tot tien pakkies met 48 eiers, dus ongeveer 400 eiers per sprinkaan.
Wat sprinkane se voedingsbehoeftes aanbetref, vreet klein sprinkane baie min, maar hulle eet tog bietjie om te groei. Maar die vernietiging is nie sigbaar met die menslike oog nie. As 'n sprinkaan sy vyfde stadium bereik, eet hy 40 milligram droeë materiaal per dag. 'n Volwasse sprinkaan vreet 35 gram per dag. So 'n sprinkaan eet dieselfde massa as wat sy liggaamsgewig is, daarom moet hulle reeds as klein sprinkane bestry word.
Bestryding behels die gebruik van Sumi-Alpha wat bio-afbreekbaar is. Binne 4 - 6 uur nadat dit vrygestel is in die lug is dit totaal afgebreek. Op warmer dae breek dit binne twee uur af.
Toerusting wat vir bestryding gebruik word, is spesiaal aangepaste, gemotoriseerde bakkiepompe of rugsakpompe wat elke druppel opbreek tot 2000 – 3 000 mikrodruppels, waarvan slegs ses nodig is om 'n sprinkaan te dood. Gewoonlik word 1 liter tot 1,5 liter per hektaar toegedien. Vir digter swerms word meer gifstof gebruik en in sterker wind word meer gifstof ook toegedien.
Die voordeel van hierdie ultra lae volume neerplasing van gifstof is dat dit baie vinnig afbreekbaar is. Die nadeel is dat dit baie vinnig ná sonsopkoms opstyg, want hitte styg op, en dan moet bespuiting gestaak word.
Die fyn sproei word gebruiklik in 12-15 meter bane oor die sprinkane gespuit wat dan oor die sprinkane afsak. Dit laat 'n vaal wolklagie oor swerms sprinkane.
Sprinkane word nie natgespuit nie.
3500 sprinkane eet volgens berekeninge een groot dorper ooi se kos op. Sprinkane rig dus groot skade aan in die veld waar veeweidings is. Die grootste skade word egter op gesaaides aangerig.
Sprinkane kan een tot vyf kilometer trek op 'n koue dag. Maar hulle kan tot 120 km op 'n warmer dag vlieg met behulp van die wind en volg graag hul natuurlike rigting in die rigting van sonop, dit wil sê ooswaarts. Dit het al gebeur dat sterk westewinde sprinkane in die see inwaai, waar hulle dan verdrink het.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'