GRAAFF-REINET NUUS - Verlede Donderdag, 7 Februarie, het die senior burgers verbonde aan die NG Graaff-Reinet-gemeente se 'Jong Harte'-projek ‘n vroeë Valentynsdag gevier.
Die 'Jong Harte', wat bestaan uit gemeentelede van 60 tot 100-jaar-oud, is op ‘n rooi tapyt by die Profcon-oord verwelkom vir ‘n heerlike samekoms.
Elke 'Jong Hart' moes ‘n interessante das en 'n ietsie rooi vir die geleentheid dra - die kreatiwiteit wat hul aan die dag gelê het, het almal verstom.
Valerie Fourie het met die mees oorspronklike kreatiewe das gespog terwyl Ds Anton en Toekie Doyer inderhaas die vorige aand ‘n strikdag gebrei het.
Die program sluit gewoonlik ook ‘n viering van verjaarsdae in asook die lief en leed ervaar gedurende die afgelope maand.
Dr. Ben en sy eggenote Sanet van Tonder het die pragtige lied, “Hier tussen ons”, gesing. Die lirieke het tot elkeen se hart gespreek van ‘n liefde "wat in sagte woorde lê, ‘n liefde wat gesond maak". Dit het mooi aangesluit by die skriflesing wat toe uit 1 Kor 13 voorgelees het.
Profcon het elke 'Jong Hart' getrakteer met die lekkerste happies, koffie en sap. Vir elke 'Jong Hart' was dit ‘n Valentynsdag wat hulle nog vir lank sal onthou.
Indien daar enige iemand oor die ouderdom van 60 is wat graag wil deel word van hierdie maandelikse samekoms, is hulle welkom om Welma Theron of die kerkkantoor te skakel.
NG Graaff-Reinet bedank graag ieder en elk wat 'n bydra lewer tot die versorging van Graaff-Reinet se senior burgers en help met dié geleenthede.
"Graaff-Reinet se seniors geniet dit om uit die huis te kom, raakgesien en bederf te word," meen dr. Ben van Tonder.
Indien enige lid van die publiek wil bydra tot die 'Jong Harte'-projek is hul welkom om Welma Theron te kontak by 084 581 9106 of die kerkkantoor by NG Graaff-Reinet by 049-892 2422.
"Saam maak elkeen ‘n verskil vir die seniors in ons gemeenskap!"
Die NG Graaff-Reinet se 'Jong Harte' - almal in rooi getooi vir die geleentheid.
Ds. Anton en dr. Ben van Tonder by die 'Jong Harte'-projek se Valentynsdagvieringe.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'