CRADOCK NUUS - 'n Oudleerder van Hoërskool Cradock, Salene Bekker (24), is besig om groot treë in die TV-wêreld te neem.
Bekker het in 2017 gematrikuleer en verwerf daarna haar BA-graad in drama en teaterstudie aan die Universiteit van Stellenbosch in 2020.
Sy ontvang in haar tweede jaar die toekenning as beste student.
Sy begin as pas-gegradueerde as verhoogbestuurder vir twee produksies, As die See byt van Rainbow Exchange en The Unlikely Secret Agent van Unlikely Productions saam met die regisseur Paul du Toit.
Laasgenoemde produksie was ook een van die produksies by die Woordfees in 2021 en was ook op die planke by Artscape en die Baxter-teater in Kaapstad.
Daarna betree Bekker die filmwêreld. Sy begin op die kykNET-reeks Arendsvlei by Penguin Films met haar opleiding as kontinuïteit/draaiboekskrywer.
As deel van haar ervaring agter die skerms van 'n filmstel, het sy eers aanvanklik werk in die kostuum-departement gedoen. Tydens haar betrokkenheid by die reeks Spinners op Showmax en Canal+ (Frankryk), het sy op hul B-eenheid se kontinuïteit begin gedoen.
Spinners is die eerste reeks uit Afrika wat genomineer is by die Cannes Series Festival in Frankryk.
Sy werk ook vervolgens by die kostuumdepartment van die film #Lovemyselfie en die reeks Die Byl vir kykNET.
Bekker is tans besig met 'n nuwe reeks, Summertide, vir M-Net. Sy doen die kontinuïteit vir seisoen 1 en 3. Dié reeks word vanaf 28 Januarie op Sondagaande om 18:00 op M-Net gebeeldsend.
Bekker is trots dat sy in Hoërskool Cradock was en dat sy drama as vak kon neem en dit buitemuurs kon doen by Melina Smit, wat ook haar mentor was.
"Moenie dink, omdat jy in 'n plattelandse skool is, jy nie jou drome kan volg nie! Jy hoef vir niks en niemand terug te staan nie," beklemtoon sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’