SPORTNUUS - Die nasionale Bisley kampioenskap, gevolg deur die F Klas-wêreldkampioenskap, is van 21 Maart tot 1 April in Bloemfontein gehou, en Suid-Afrika het uitstekend presteer.
Daar word in vier kategorieë meegeding.
Die eerste is die FTR (F-class Target Rifle) kampioenskap waar die 8-man nasionale span uitskiet vir die Fazarkleytrofee en die 4-manspan vir die SA-beker. Die kompetisie word geskiet met .308 gewere.
Dan is daar die F-ope afdeling waaraan die 8-man nasionale span meeding vir die Fazarkleytrofee en die 4-manspan vir die Rutlandtrofee.
'n Prokureur van Cradock, Frikkie Coetzee, was in die SA-span wat die Rutlandtrofee verower het. Saam met hom in die span is die nuutgekroonde wêreldkampioen, Bernard Engelbrecht, asook Johan Louw, die naaswenner.
Die Proteas het in die stryd vir die Fazarkleytrofee die silwer medalje verower, terwyl die FTR-span die goue medalje verower het, met ‘n splinternuwe wêreldrekord.
“Ons FTR Proteaspan het voorwaar alle ander spanne ‘n behoorlike loesing gegee,” vertel Coetzee.
In die F-ope afdeling vir die Rutlandtrofee het die span waarin Frikkie skiet, die goue medalje verower.
“Dit was nog altyd net die Amerikaners wat met goud weggestap het. Ons is die eerste span om die Rutlandtrofee by hulle af te neem. Dit is vir my ‘n eer om te kan sê dat ons span met ‘n volle twaalf punte oor die Amerikaners kon seëvier. Hierdie span het hul heel beste poging aangewend.
"Die F-klas wêreldbeker het vier afdelings waarin daar geskiet word. Die Suid-Afrikaanse spanne het twee goue medaljes en twee silwer medaljes gewen. Dit was vir my ‘n voorreg om te kon deel wees van die F-ope Rutlandspan wat met goud as wenners uit die stryd getree het."
Die Rutland-trofee.
Die SA Bisleyspan wat die Rutlandtrofee verower het. Frikkie Coetzee van Cradock is heel links agter.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’