GRAAFF-REINET NUUS - Geen lewende wese kies om in 'n omgewing gebore te word waar daar nie eens aan jou basiese behoeftes voorsien gaan word nie. So baie diere word daagliks op verskillende maniere verwaarloos, en so was dit ook die geval met Rufus.
Toe Rufus gevind is, was dit duidelik dat hy op die lewe opgegee het. Uit die staanspoor was daar nie veel hoop vir die uitgeteerde hond nie, maar het hy in die liefdevolle arms van Annalene Lindeque beland, soos die spreekwoordelike idioom sê, "met sy agterstewe in die botter".
Lindeque het Rufus in pleegsorg geneem, en hom gou vetgevoer. Hy het ook elke dag saam met haar na haar werk by George Herald gegaan om daar verder bederf te word en om te leer om te sosialiseer.
"Toe ek hom gekry het, kon hy nie eens met my oogkontak maak nie; hy was vreeslik bang vir mense. Hy moes basies leer hoe om hond te wees. Hy was vreeslik swak en het nie eens geweet hoe om trappe te klim, uit 'n bak te eet, of te speel nie. In die begin was dit net om hom sover te kry om sy kos uit 'n bak te eet omdat hy tot op daardie stadium maar net altyd 'n straathond was. Dit was lekker om te sien hoe sy vertroue in mense versterk het - hy was nooit kwaad vir iemand nie, met alles wat met hom gebeur het - hy was net altyd hierdie liefdevolle siel," vertel Lindeque.
'n Berig oor Rufus is aanlyn geplaas waarin gesê is dat Rufus 'n 'for ever home' soek. Claire Lemke van Graaff-Reinet het onmiddellik op Rufus verlief geraak toe sy hom op Facebook sien. Sy vertel dat sy moes aansoek doen om hom aan te neem, en het sy al die kriteria suksesvol geslaag. Die kantoorpersoneel by George Herald vertel dat hulle almal baie hartseer was toe Rufus vierpotig in 'n kar geklim het om sy aanneem ma, Lemke te ontmoet. Rufus het nou 'n volkome transformasie ondergaan. Hy is nou deel van dié huisgesin wat hardloop, en het hy gou al die oortollige vetjies afgeskud. Die vaartbelynde Rufus hardloop ook daagliks saam met sy nuwe gesin, en neem ook graag aan die parkrun deel.
Lemke sê dat hulle Rufus verlede jaar in November aangeneem het nadat haar ander hond, Tommy deur 'n pofadder gepik is. "Ek het so verlang na Tommy en my man het my aangemoedig om weer 'n hond te kry. 'n Vriendin van my het Rufus op Facebook gesien en my vertel van hom. Dit was vir my swaar om na hom te kyk, hy het so verwaarloos gelyk. Dit was ook vir my net een te veel om te dink dat hy weer in die skut teruggeplaas sou word as hy nie 'n huis sou kry nie."
Lemke sê dat Rufus baie gou in hulle huishouding van vier aangepas het, en is hy sommer vies as hy nie in die kar kan inspring of saam kan gaan draf wanneer daar uitgegaan word nie. Op 'n vraag wie sy gunsteling mens is, antwoord Lemke dat sy glo sy die een is waarna Rufus elke dag verlang. "Hy het my hart weer kom heelmaak."
Adopt don't shop
Lindeque moedig almal aan om, net soos sy, 'n dier in pleegsorg te neem. "Ek put baie satisfaksie daaruit om 'n dier te versorg totdat hy sy eie 'for ever home' kry. Dit is lekker om te sien hoe 'n eens senuweeagtige dier blom wanneer jy aandag, kos en liefde gee."
Graaff-Reinet Animal Welfare Society (Graws)
Carlin Raath, bestuurder van Graws, sê dat daar tans 15 van hulle honde in pleegsorg is en sowat 30 honde is beskikbaar vir aanneming. "Ons kry weekliks tussen drie tot ses honde in. Hier is pragtige honde en katte beskikbaar."
Raath nooi die publiek uit om die skut te besoek of selfs net met die diere te kom speel. Om meer uit te vind oor die diere wat by Graws beskikbaar is, skakel 072 123 1722.
Rufus word lekker bederf by George Herald.
Rufus nadat hy gevind is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’