HOFMEYR NUUS - Hoeveel van ons koester kosbare Paasherinneringe uit ons jeug? Hetsy dit van familiekuiers, paaseiers, plaaskuiers of warm paasbolletjies is, dit bly steeds kosbaar. Vir elkeen het die paashaas ‘n kort wyle deel van Paasfees uitgemaak.
Deesdae is Paasfees so gekommersialiseer, dat elke ouer en grootouer daarteen moet waak dat die kleingoed nie die ware oorsprong van die Paasverhaal vergeet nie.
Sowat twee weke gelede is daar 'n kaartjie met die volgende bewoording op ‘n plaas in die Hofmeyr-distrik afgelewer:
"Liewe Paashaas, Ons gaan eers Donderdagaand kerk toe. Dan gaan ons van Vrydag af plaas toe. Bring asseblief ons paaseiers daarheen Sondagoggend. En moenie vergeet om vir oupa en ouma, en vir mamma en pappa ook eiers saam te bring nie. Ons was soet."
Die kaartjie word afgesluit met die kleinspan se name.
Dit is kosbaar dat die kleingoed weet dat kerk toe gaan en Paasfees saamloop. Natuurlik het elke oupa en ouma by wie kleinkinders kom kuier het, moeite gedoen om die Paasfees spesiaal te maak, maar die rede vir Paasfees is ook uitgelig.
Die kleinspan gee nie om of dit sommer goedkoop paaseiers is nie en dit was duidelik sigbaar waar welsynsinstansies paaseiers afgelewer het. Die groot vreugde lê egter in die soektog, en die vind van die eiers, en natuurlik ook die genot wat al die soetigheid en sjokolade gee.
Baie van die ouer garde onthou handgeverfde hardgekookte eiers wat op Paasfees weggesteek is. En dit het net soveel vreugde gegee, en steeds die Paasboodskap van die Opstanding en Nuwe Lewe oorgedra.
Hierdie jaar was Paasfees vir vele gesinne ‘n hoogtepunt, omdat hulle verlede jaar nie as familie kon saamkuier nie. Veilige afstande is gehandhaaf, daar is buite gekuier, en in die Karoo was dit heerlike koel herfsdae.
Op dieselfde plaas in dieselfde distrik, het daar Maandagmiddag ‘n kaartjie agtergebly:
"Liewe oupa en ouma Baie dankie dat die Paashaas hierheen kon kom. Dankie vir al die bederf en die lekker stories, en dat ons buite kon speel."
En die Paashaas het ook ‘n brief gekry: "Liewe Paashaas, baie dankie vir die Paaseiers wat jy gebring het. Dit was lekker om te soek daarna in die groot plaastuin. Ons het ook vir oupa en ouma, en vir pappa en mamma gegee."
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'