JANSENVILLE NUUS - Die Jansenville-inwonersforum is erg omgekrap oor die groot skade wat steeds deur rondloper beeste, bokke en varke aangerig word.
Die inwonersforum het vroeër vanjaar kommer hieroor uitgespreek, maar ondanks vele vergaderings en samesprekings met die munisipaliteit en ander instansies kon hierdie probleem nog nie hokgeslaan word nie.
Pauline van Zyl, 'n inwoner van Jansenville en voorsitter van die Jansenville-inwonersforum, sê dat dié rondloperdiere reeds groot verwoesting in die dorp en woonbuurte gesaai het.
"Alles wat groen is op die sypaadjies word opgevreet. Beeste en bokke wei ook in mense se tuine en vreet alles op. Die ry bougainvilleas wat Brugstraat versier, is ook al so verniel dat daar maar min hoop is dat dit sal oorleef." Sy voeg by dat hierdie rondloperdiere ook 'n groot padgevaar inhou.
Volgens Van Zyl word hierdie diere in die eienaars se agterplase aangehou ten spyte van 'n bestaande ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die Jansenville-proefplaas ingevolge waarvan sekere kampe tot die boere se beskikking gestel is.
Water word selfs deur die munisipaliteit aangery na kampe waar daar nie water beskikbaar is nie en daarom is daar hoegenaamd geen rede hoekom die boere nie van hierdie kampe gebruik kan maak om hul vee te laat wei nie.
Sy benadruk dat die vee tans in 'n baie slegte toestand is omdat daar nie genoegsame weiding of enige water in die dorp beskikbaar is nie.
Ten einde 'n oplossing vir hierdie voortslepende probleem te probeer vind het die Jansenville-inwonersforum weer verlede week met die munisipaliteit vergader.
Die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit se bestuurder van gemeenskapsdienste, M Pieterse, het ook hierdie vergadering bygewoon en daar is besluit dat alle rondloperdiere vanaf 3 Julie op die onkoste van die betrokke eienaars uit die dorp verwyder en na 'n plaas vir bewaring geneem sal word.
Die Jansenville-inwonersforum sal voorlopig die brandstofkoste hieraan verbonde dek.
Kennisgewings is intussen aangebring om die boere te verwittig van hierdie maatreëls en die inwonersforum hoop en vertrou dat die probleem hiermee hokgeslaan sal word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'