KAROO NUUS - Terwyl Karin Human van die Cradock-diereskuiling, Sondagoggend, 13 Augustus, hondekos gaan koop het, is sy deur konst. ZC Adams voorgekeer.
Hy het haar vertel dat hy al vir twee dae lank 'n getjank van 'n hond in die koppies langs die N10, net buite Cradock, hoor.
Karin en haar man Herkie, het saam met Adams gegaan en is te voet teen die koppie uit, waar die getjank steeds hoorbaar was. "My vermoede was dat die hond moontlik beseer is en nie kan loop nie, of nog erger, dat die hond in 'n slagyster of draadstrik vassit," vertel Karin.
"Hoog op teen die koppie, onder 'n massiewe rots, sien ons toe die gesiggie en 'n voorpootjie uitloer. Die hond het dadelik geweet dat ons daar is om te help, want sy was dadelik stil. Ek is doodseker as sy haar stert kon waai, sou sy."
Hulle het vir Andile Miggels, wat by die skuiling uithelp, gaan haal en hulp op 'n Facebook-groep gevra.
"Ek het geweet dat ons drie nooit daardie rots geskuif sou kry nie. Dit is met verstomming wat ek vandag kan sê dat groot getalle mense opgedaag het om te kom help."
Na ure se gesukkel is die ambulansdienste ingeroep sodat die lewenskake gebruik kon word en is die hond onder die rots uitgetrek.
Die veearts, dr. Monica Muller, het die pragtige hond ondersoek en haar toe na die diereskuilding se versorgingskamer geneem om aan te sterk waar sy sommer vinnig Rocksy gedoop is!
Ongelukkig het Rocksy se eienaars haar nog nie opgeeis nie, en is hierdie avontuurlistig dame vir aanneming beskikbaar. Kontak Cradock-diereskuiling by 073 933 2997 om vir Rocksy te ontmoet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’