KAROO NUUS - Die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit het onlangs die koopkrageenhede van tien huise in Blikkiesdorp met koordlose koopkrageenhede vervang.
Blikkiesdorp bestaan uit twee rye huise aan die voorkant van die groter informele nedersetting wat as Riemvasmaak bekendstaan.
Die inwoners is baie ongelukkig hieroor omdat Riemvasmaak glo al vir meer as 10 jaar krag van Blikkiesdorp ontvang deur konneksies wat die inwoners self aangelê het.
Tot dusver het hulle net nodig gehad om die konneksiefooi, van tussen R150 en R300, wat deur die voorste huise verhaal is, te betaal.
Deesdae kan die voorste huise nie meer krag kry sonder om munisipale tariewe daarvoor te betaal nie, en gevolglik kan hulle nie meer krag aan die res van die huise voorsien nie.
'n Moedelose inwoner het gesê sy is moeg vir die dinge wat in Riemvasmaak gebeur.
"Die mans wat aan die kragbokse kom werk het, het vir ons gesê dat ons beter af gaan wees omdat die krag nie meer so sal afslaan nie, maar hulle het ons getrap. Ons moet nou hoeveel rand se krag koop. Ons het dan nie geld nie. Ons moet nou meer krag koop én ons moet gas koop én ons moet die mense by wie ons krag trek betaal. Ons kan nie uithou nie. Waar is ons kinders se kos? Meeste van ons kry net all-pay."
'n Bejaarde inwoner sê die munisipaliteit het haar al 12 jaar terug 'n huis belowe. "Ek het nie met my kragboks gepeuter nie, ek het dit maar so kom kry," sê sy. Inwoners sê die gebrek aan watervoorsiening, sanitasie en verwydering van vullis, is ook uitdagings.
Die Dr Beyers Naudé munisipaliteit se 2017-2021 Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) lui egter dat Riemvasmaak en ander informele nedersettings in Graaff-Reinet en Nieu Bethesda wel toegang tot water, sanitasie en vullisverwyderingsdienste het.
Die departement van menslike nedersettings het 'n nasionale plan vir die opgradering van informele nedersettings. Volgens die munisipaliteit het hulle 'n vergadering met die departement belê om plaaslike opgraderings te bespreek. In 'n wyk 6-vergadering op 22 Mei het die munisipaliteit genoem dat hierdie vergadering alreeds twee keer deur die departement uitgestel is. Hulle het gesê hulle is vasbeslote om te verseker dat die vergadering met die departement wel plaasvind sodat die opgraderings in die nasionale plan ingesluit word.
Onwettige konneksies
Die munisipaliteit moet Eskom betaal vir krag wat na verbruikers versprei word. Verliese as gevolg van onwettige konneksies, maak dit moeilik om hierdie verpligting na te kom. Diefstal van elektrisiteit is nie net diefstal van munisipale inkomste nie, dit is ook diefstal van elke ander betalende verbruikers omdat die verliese deur stygende tariewe verhaal word.
Onwettige konneksies beskadig infrastruktuur met enorme finansiële implikasies en is uiters gevaarlik.
Die munisipaliteit is gevra vir terugvoer oor die aangeleentheid en dit sal publiseer word sodra die Advertiser dit ontvang.
Oop onwettige kabelverbindings is uiters gevaarlik.
Die kabels wat onwettig krag van Blikkiesdorp na Riemvasmaak voorsien.
Die nuwe koordlose koopkrageenhede wat die munisipaliteit geïnstalleer het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’