CRADOCK NUUS - "Dit klink soos 'n Boeing wat laag vlieg en dan hoor mens die remme, en dan die verskriklike slag en die stofwolke," vertel Tjokkie du Preez, gastehuiseienaar van The Palms in Cradock.
Die Frans Loots-brug is die hooftoegangsroete na Cradock vanaf Middelburg/Graaff Reinet, en menige ongelukke is al daar gadegeslaan.
"Alarms by Cradock Sekuriteit het om 22:15 veroorsaak dat die sekuriteitspan wat Vrydagaand aan diens was, dadelik na die toneel is," vertel Ivan Stock, eienaar van Cradock Sekuriteit, nadat hy foto’s op sosiale media geplaas het wat op die toneel geneem is.
Die groot vragmotor het blybaar nie hard genoeg gerem by die vierrigtingstop reg oorkant die OVK se brandstofdepot vanaf Middelburg-rigting nie, en die vierrigtingkruising oorgesteek. Die voertuig het die sykant van die Karoo Express-kafee op die OVK-terrein getref. Ruite en rakke binne die gebou is vernietig.
Op 'n navraag of daar nie ook groot skade gely is met betrekking tot die voorraad in die kafee en wegneemetekombuis nie, het Tanja van der Mescht gesê die personeel wat in die kombuis werk, was reeds huis toe, maar Cradock Sekuriteit was so vinnig op die toneel, dat geen verliese gely is nie.
"Die personeel wat die brandstofstasie beman het, het ook ‘n ogie gehou. Ons is net dankbaar dat ons personeel nie beseer is nie. Geen ongevalle is aangemeld nie."
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'