ABERDEEN NUUS - Met die aanvang van die 2024 akademiese jaar het Riaan van Heerden, VF Plus-raadslid in die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit en Sarah Baartman-distrik, 140 bokse sanitêre doekies aan Aberdeen se sekondêre skool en een van die primêre skole, die Aberdeen Full Service School, geskenk.
"Sanitêre doekies het ‘n luuksheid geword wat baie nie kan bekostig nie," verduidelik Van Heerden.
"Die gebrek daaraan het vêrreikende gevolge. Dit veroorsaak vrees en verleentheid en dit lei daartoe dat baie jong dogters ‘n lae selfbeeld ontwikkel."
Dit kan ook ‘n opvoedkundige gaping van ongeveer 60 dae elke jaar tot gevolg hê omdat baie leerders wat nie sanitêre doekies kan bekostig nie, ongeveer vier tot vyf dae uit elke maand nie skool toe kan gaan nie.
Geaffekteerde dogters word dus aansienlik daardeur benadeel en daarom glo Van Heerden dat die skenking ‘n groot verskil in die lewens van hierdie twee skole se dogters sal maak.
Raadslid Van Heerden by die hoof van die departement vir Aberdeen Full Service School se intermediêre en senior fase, Talana Verwey, en skoolhoof Solomon Constable.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’