GRAAFF-REINET NUUS - Die Artikel 79-komitees wat noodsaaklik is vir die uitvoering van die munisipale raad se funksies, insluitend dienslewering, is weereens nie aangestel tydens die raadsvergadering wat op 15 Februarie plaasgevind het nie.
Dis uitgestel na die volgende ver-gadering wat binne sewe dae vanaf genoemde datum moet plaasvind.
Die nuwe spreaker van die Dr Beyers Naude Munisipaliteit sal ook tydens hierdie vergadering aangestel word.
CSA-raadslid Cheslin Felix, genomineer deur die ANC, het voorlopig waargeneem as spreaker en voorsitter van die vergadering op 15 Februarie. Dit volg nadat hy 12 stemme teenoor die DA-raadslid Danie Bezuidenhout, se 11 stemme verwerf het omdat een van die DA-raadslede glo per ongeluk verkeerd gestem het.
Inwoners is hoopvol dat hierdie komitees wel tydens die volgende vergadering sal realiseer aangesien dit duidelik is dat dit in hierdie stadium van kardinale belang is. Daar is nie een enkele dorp in die munisipale area wat nie gebukkend gaan onder gebrekkige dienslewering nie.
Die waterkrisis bly bo-aan die lys van ellende en inwoners is keelvol. Sommige woonbuurte in Graaff-Reinet is steeds weekliks heeltemal sonder water terwyl ander net in die aande water het. Dit is veral moeilik omdat daar nie gemeenskapstenks in al die geaffekteerde buurte is nie.
Alhoewel hierdie tenks effens verligting bring, los dit nie die waterprobleem heeltemal op nie.
Volgens inwoners is die tenkwater nie veilig vir menslike gebruik nie, omdat die tenks nooit skoongemaak word nie, en ook omdat die water wat met trokke aangery word soms baie vuil is.
Inwoners van Kroonvale was verlede week veral erg omgekrap toe hulle 'n padda in die water ontdek het waarmee die tenk in Angorastraat volgemaak is.
Benewens die toenemende hulpkrete van inwoners van Graaff-Reinet en ook ander dorpe in die munisipale area, het die munisipaliteit sedert Januarie 2022 ten minste twaalf kennisgewings rakende uitdagings met die voorsiening van water in verskeie dorpe uitgereik.
Dit ten spyte van die feit dat daar alreeds ongeveer R35 miljoen op waterprojekte spandeer is.
Die verskillende waterprojekte en die koste wat aan elke projek verbonde was is in Oktober 2021 bekendgemaak as deel van die munisipaliteit se verslag op die afgelope vyf jaar se prestasies en mylpale. Luidens hierdie verslag is daar 'n totale bedrag van R18,5 miljoen in Aberdeen aangewend, R13 miljoen in Willowmore, meer as R2,5 miljoen in Jansenville, en R1,2 miljoen in Graaff-Reinet.
Te oordeel aan munisipale kennis-gewings het Graaff-Reinet by verre die meeste uitdagings ten opsigte van watervoorsiening.
Baie van hierdie uitdagings hou verband met probleme met elektrisiteitstoevoer en die toenemende vandalisering en diefstal van infrastruktuur.
Dit beteken egter nie dat die ander dorpe enigsins beter af is nie.
Volgens die nuutste kennisgewing gedateer 12 Februarie, sal water-voorsiening in Willowmore voortaan tot vyf ure per dag, tussen 05:00 en 10:00, beperk word as gevolg van grootmaat-watertoevoerprobleme vanaf Wanhoop en ook omdat daar elektrisiteitsfoute by van die boorgate is.
Die skynbaar drastiese toename in voorvalle, asook beweringe dat Willowmore se damvlakke steeds daal ten spyte van die feit dat daar uiters min water gebruik word en daar klaarblyklik geen fout op die pyplyn of by Wanhoop is nie, laat vrae ontstaan oor moontlike sabotasie wat dalk dringend ondersoek moet word.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'