Gallery
NIEU-BETHESDA NEWS - Pampoene, paaseiers en potjiekos was maar net 'n paar van vele verrassings wat feesgangers by verlede Saterdag se Tot-Hier-Toe Padstal Pampoenfees in Nieu-Bethesda kon ervaar.
Chrissie Swarts en Riel Malan, eienaars van die padstal en feesorganiseerders, het behoorlik hul pampoene uitgehaal en gewys toe hulle die jaarlikse pampoenfees, Pump-Palooza 2023, dou voor dag met entoesiasme afgeskop het.
FOTOGALERY: Pampoenfees in Nieu-Bethesda
Die padwerke waaraan Nieu-Bethesda tans onderhewig is, het die 600-plus feesgangers nie afgeskrik om die grondpad aan te durf en die 5,8 km pretdraf, draadkarresies, kos-en-allerlei stalletjies, kunsaktiwiteite, paaseiersoek en skoffel saam met die inwoners van Nieu-Bethesda te geniet nie.
"Ek het nog nooit op so 'n klein dorpie so 'n klomp jongmense op die dansvloer gesien nie," het Leon Jacobs, wat ook as kunstenaar opgetree het, opgemerk.
Smaaklike skenking
Sedert Chrissie en Riel die pampoenfees geërf het, groei dit elke jaar in getalle asook in kwaliteit. Maar hierdie spesiale fees het ook 'n ander doel as vermaak - met 'n klein toegangsfooi van R20 het feesgangers 'n groot verskil gemaak.
Vanjaar kry Edenhof-aftreeoord en Huis van De Graaf-aftreeoord elkeen 10 kg maalvleis, 10 kg wors, 10 kg patties en 12 wildspasteie van Tot-Hier-Toe Padstal.
Die skenking is R8 400 werd en word persoonlik afgelewer.
Wen-wen
- Die fees het ook heelwat wenners in verskeie items opgelewer.
- 5.8km Pretdraf
Mans
- 1ste - Riaan Calitz
- 2de - Simon Osman
- 3de - Jac Goosen
Dames
- 1ste - Ebenise van der Merwe
- 2de - Marette Reynolds
Die draadkarresies onder leiding van Dylan Steer, was 'n hoogtepunt van die dag toe meer 20 deelnemers met hul draadwerk kom spog het. Elke deelnemer het met 'n koeldrank en pakkie tjips, geborg deur Rikus en Nicolene Smit, weggestap. Die wenners van die resies is bepaal deur die kreatiefste en mees innoverendste karretjie, nie noodwendig die vinnigste nie. Die wenners het met 'n geskenkbewys van Die Winkel weggestap.
Dan was daar die oulikste pampoen-inskrywings, onder andere die prys vir die beste skepping in die kinderafdeling en dit het gegaan aan klein Alexander Plumstead.
Die vreemdste vorm kategorie het gegaan aan Hugo Rigter, asook die kleinste en die beste gekerfde pampoen!
Rebecca het met haar pampoen-gehekelde skepping die prys ontvang vir die kreatiefste skepping in die volwassene afdeling. Feesgangers van Vereniging, Daleen en Leon Jacobs, het die prys gewen vir die Hidden Gem, met hul pragtig gepatroonde pampoen.
Die grootste, swaarste, vetste prys het ook vir die grootste swaarste, vetste pampoen gegaan. Baie geluk aan Paul Schoeman met sy pampoen wat 201 kg geweeg het.
Gedurende die dag het feesgangers aan heerlike roosterkoeke met konfyt of maalvleis, sosaties en skenkel- en afvalpotjie gepeusel en geproe.
Ons gunsteling klankman, Fanie van Fanie's Sound Middelburg het van vroegoggend tot laataand die fees saamgevat met nie alleen 'n klanksisteem wat skrik vir niks nie, maar ook die beste feesmusiek wat feesgangers tot laataand op die dansvloer gehou het.
Die volgende pampoenfees is 30 Maart 2024. Bespreek vandag nog jou akkommodasie, beplan jou roete en hou die sosiale media platforms dop vir raad oor hoe om jou pampoene te groei vir volgende jaar se kompetisie!
n Die skrywer van die artikel, Danie Boneschans van Nieu-Bethesda skep Afrikaanse aanlyn-onderrigmateriaal en is ook 'n aanlynonderwyser. Kontak hom by info@danieteach.com en lees meer by dtia.ecwid.com / www.danieteach.com.
Die wenpampoen in die kinderafdeling.
Klein Lano Hendricks het die kompetisie terdeë geniet.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’