RUBRIEK - Oom Klaas het my genooi om 'n broodjie by hom te breek om die aanbreek van Karoo-winter te gedenk. Dina het oxtail gemaak.
Die aroma wat my in die kombuis begroet en begelei na die eetkamer, is 'n gastronomiese ontdekkingsreis vir die neus.
Die perfekte harmonie in komplekse versnyding van beesvleis gekook in goeie rooiwyn, uie, knoffel, geroosterde koljander, naeltjies, neutmuskaat, swart peper en nog die een en ander onverklapte geheimenisse verwelkom my hartliker as die knettervuur in die kaggel in die eetkamer. My mond water en ek wil myself haas na die tafel vir die kulinêre fees wat wag!
By my sitplek aan tafel sien ek egter net 'n klein wit bakkie met 'n handvol olywe daarop. Oom Klaas beduie: "Vrou reken ons moet eers slaai eet. Ek seg: "Ons proe eers die waarheid. Sit maar aan, dan val jy weg – daai goed ís mos al in die Bybel gebid voor."
"Kom hier van my buurman en dierbare goeie vriend, Oom Gert, se werf af. Dina'tjie het hulle self so getroetel van galbitter na lekker-eet toe. Proe hulle. Proe nie soos gekoopte, gebottelde goed nie."
Met my palet gewoond aan die voor-bitter en dan die souterige, reinigende smaak van die eerste olyf, reik ek vir 'n tweede en 'n derde: lieflik lekker; smaaklik - dit raak net beter. Oom Klaas let my dop en glimlag kopknikkend: "Proe jy hom - dis mos hoe moeilike waarheid proe, sien jy. Hy begin galbitter, maar soos jy hom gewoond raak, so raak hy al beter tot waar jy nog en dan nóg wil hê. En daai bietjie souterigheid rond hom af, né ... soos sout in 'n waarheidswond.
"En nes met die olywe in jou bakkie, raak die waarheid so lekker dat jy hom mis en soek as jy hom nie elke dag proe nie.
"Jy weet, wat dit veral spesiaal maak, is wanneer jy die waarheid so ongekunsteld van 'n vriend af ontvang soos Oom Gert hierdie olywe vir ons gebring het: netso direk van die boom gepluk; g'n fieterjasies nie. En soos met die ontvang van die rou olyf, is die aanhoor van die waarheid ook man-man se keuse: wat doen jy daarmee? Vir weke lank het Dina hierdie olywe getroetel. Gebaai in soutwater en dan gelawe met varswater en dan terug in nuwe soutwater. Weekliks het die olywe net lekkerder geraak.
Kyk hoe smul jy nou. Dikwels hoor 'n man die waarheid aan, maar dan geval daai waarheid hom nie; dan gooi hy vir waarheid summier eenkant toe weg. Fout. Sorg vir die waarheid en die waarheid sal sorg vir jou."
Met my slaaibakkie leeg en die seën gevra oor die ete wat wag, stap ons na die koolstoof om van die oxtail op te skep. Oom Klaas skep 'n klein porsie en loer vir my toe ek sommer behoorlik opskep: "Hmm, hoe soeter en ryker die vergryp, hoe bitterder die gal veel later ... baie soos 'n leuen."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’