GRAAFF-REINET NEWS - 'n Groep predikante en pastore van verskeie kerke het onlangs 'n nuwe liggaam op die been gebring met die doel om kerke te bemagtig en ook om kerke nader aan mekaar, en die kerk nader aan die gemeenskap te bring.
Pastoor Isak Reed van die AGS-kerk verduidelik dat die Ministers Fraternal verantwoordelik is vir alle kerkaangeleenthede en ook aangeleenthede van openbare belang soos munisipale kwessies, gesondheidskwessies byvoorbeeld Covid-19, ensovoorts.
"Die kerk het nog nooit 'n liggaam gehad waar predikante en pastore opgebou kan word nie, en daarom sal die nuwe liggaam op die welstand van predikante en pastore fokus."
Leraar Johnny Swartz van Jesus Only Ministry voeg by dat predikante en pastore maar baie verwyderd van mekaar af lewe, en dat die nuwe liggaam hulle sal help om mekaar beter te leer ken. Hulle sal ook fokus op vroue en die rol van vroue as leiers in die kerk aanspreek.
Dit alles sal samewerking bevorder en kerke in staat stel om 'n baie groter rol in die gemeenskap te speel. Die liggaam sal verder dien as 'n platform waar omstrede kwessies van kritieke sosiale belang onder andere homoseksualiteit, dwelmverslawing en geestesgesondheid bespreek kan word.
Die algemene persepsie is dat kerke hierdie tipe dinge afkeer of as sonde bestempel, maar volgens biskop Salman Bantom van die Afrika Evangelie Sendingkerk, is dit die dogma van die kerk en nie die evangelie nie.
"Die doel van die evangelie is om verlossing te bring en nie om te oordeel nie."
Die predikante en pastore is van mening dat die kerk tog veronderstel is om 'n plek te wees waar daar omgesien word na mense wat hartseer is of uitdagings in die gesig staar. Aangesien daar soveel omstredenheid rondom sommige van hierdie kwessies is beoog hulle om een keer per maand 'n gasspreker te nooi wat met hulle daaroor kan praat sodat hulle dit beter kan verstaan en mense wat daarmee worstel beter kan ondersteun.
Predikante en pastore van 21 plaaslike kerke, wat deel is van die nuwe liggaam, is Jesus Only Ministry, Family Fellowship of Grace, Moving Gospel Mission SA, Africa Gospel Mission, Siloam Revival Gospel Mission, Nuwe Kerk in Christus, Kingdom Vibration Centre, Assembly of God, Micdalor Ministry, Full Gospel Church of God, Cornerstone of Truth, Tabernakel van God, Pinkster Herlewing Sending, Moria Gemeente, Pentecostal Messenger Mission, Apostoliese Geloofsending, Die Heilige Evangelie, Nahimia Pinkster, Life Centre Ministries, AGS River of Life en African Methodist Episcopal Church.
As deel van die platform wil hierdie predikante en pastore graag met Pinkster-bidure begin waar alle kerke welkom sal wees. Hulle glo dat dit beslis samewerking sal bevorder, eenheid sal bou en kerke sal versterk.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'