Update
GRAAFF-REINET NUUS - Graaff-Reinet se speurtak werk onverpoos om die N9-moord verdagtes vas te trek.
Vereeniging-inwoner Annette Jooste van Eeden (59) se liggaam is 13 Junie kort na 6.30vm vier kilometer buite Graaff-Reinet langs die N9 gevind.
Dít nadat plaaslike polisie 'n anonieme oproep ontvang het.
Woensdag, 19 Junie is Jooste Van Eeden deur middel van vingerafdrukidentifikasie uitgeken.
Die Advertiser het, 'n dag nadat hulle van haar moord in kennis gestel is, met twee van haar susters, Ronel Veldman en Elize Kolver, gesels.
"Dit voel onwerklik, soos iets uit 'n film," het Veldman vertel. Sy het ook 'n foto van Jooste van Eeden verskaf.
Meeste van Jooste van Eeden se familie, Veldman en Kolver insluitend, woon in Port-Alfred.
Jooste van Eeden was van plan om by Veldman in Port-Alfred te gaan woon, maar dààr het sy nooit opgedaag nie.
Alhoewel inligting oor gebeure wat die moord voorafgegaan het aan die Advertiser bekend is, word dit weerhou van publikasie, aangesien die polisie-ondersoek op 'n sensitiewe stadium is.
Volgens Kaptein Bradley Rawlinson van die Graaff-Reinet SAPD is die oorsaak van Jooste van Eeden se dood aan die polisie bekend.
Rawlison wou nie verder uitbrei nie, maar vra dat enige iemand met inligting Speurder Adjudant-Offisier Leon Weitz op 082 301 8475 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'