ABERDEEN NUUS - "Die eerste aand het ek gehuil, maar nie die tweede aand nie. Toe het ek my huil ingehou," doen Emilize van Rensburg ernstig en hartroerend verslag oor haar eerste week in die koshuis.
Emilize het op 5 Januarie sewe geword en is die jongste van agt graadeens - vyf seuns en drie dogters - wat verlede week by Laer Volkskool in Graaff-Reinet se Huis Eybers met koshuislewe kennisgemaak het.
Sy het omtrent uitgesien na haar eerste skooldag, al was die wete dat haar maatjie Esthe, ook daar sou wees, eintlik maar die trekpleister, vertel Emilize se ma, Umelda Verwey van Rensburg van die plaas Wynberg in die Aberdeen-distrik.
Umelda, 'n boorling van Aberdeen, was self 'n koshuiskind jare gelede... "van destyds se Sub-A tot St. 5".
Sy en haar man, Derick, het moeite gedoen om Emilize voor te berei op koshuislewe.
"Dit bly 'n groot verandering en aanpassing, al aanvaar ons dit maar as vanselfsprekend, veral vir plaaskinders."
Selfstandigheid en onafhanklikheid is so deel van Emilize soos haar ouma, ma, pa en die plaaslewe en sy het spesiaal self haar hare gedoen vir die eerste skooldag vanjaar. "Kyk die hare – ek mag mos nie daaraan geraak het nie!" skud Umelda laggend kop.
Emilize sê wat sy die meeste mis wanneer sy by die koshuis is, is haar ma en pa. Sy was Woensdagoggend gereed vir graad 1 en koshuislewe, maar het haar ouers verseker dat sy net een slapie daar sou oorslaap.
"Gelukkig is daar twee troostannies by die koshuis," sê Umelda terwyl Emilize uitbrei dat dit "tannie Debbie" en "tannie Verna" is. Die 'troostannies' het moeite gedoen om al agt die nuwe leerlinge welkom en tuis te laat voel.
Umelda sê die hele gesin het darem die kort week oorleef, al was dit vir almal vreemd en 'n aanpassing: "Sy ís mos ons hanslam!"
Laer Volkskool bly 'n uitstaande skool in die omgewing en was verlede jaar 'n eeu oud. Die skool is in 1922 as eerste Afrikaansmediumskool in die Ou Kaapland gestig. Die leuse van die skool is: "Ons sal handhaaf" en is vanmelewe deur CJ Langenhoven voorgestel.
Vir veral plaaskinders is koshuislewe deel van skoolgaan en word die skool se leuse ook uitgeleef in die handhawing van vroeë selfstandigheid.
Emilize reken die huil sal vandeesweek ook binne bly, maar is nog onseker of sy regtig so baie slapies weg van haar ouerhuis wil oorslaap.
Emilize van Rensburg en pappa Derick is ewe gereed vir die eerste dag van graad 1.
Naweektyd bly gelukkig plaastyd!
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Tuinroete nuus'