KAROO NUUS - ‘n 43-jarige verdagte is op 25 Augustus deur die Valke, se Ernstige Georganiseerde Misdaad-ondersoekspan vir die onwettige besit van perlemoen, aangekeer.
Die verdagte sluit by sy tien medebeskuldigdes aan wat reeds in Mei by Algoapark, Gqeberha, vir onwettige besit van perlemoen en visvang sonder ‘n permit, gearresteer is.
Volgens ao. Ndiphiwe Mhlakuvana, word daar beweer dat die verdagte van twee vorige tonele ontsnap het en op daardie stadium onbekend aan die polisie was. Die saak is na die Valke vir verdere ondersoek verwys.
Die eerste geval was in Cradock in Mei 2021 waar 4 400 eenhede perlemoen ter waarde van R2 miljoen gevind is en die tweede geval was in Hofmeyr in Oktober 2021. Volgens Mhlakuvana is 65 sakke onwettige gevriesde perlemoen ter waarde van R1,6 miljoen gekonfiskeer.
Die totale kontantwaarde van die perlemoen wat gekonfiskeer is was R3,6 miljoen. Volgens Mhlakuvana is twee voertuie wat gebruik is om die perlemoen te vervoer ook gekonfiskeer.
Die ondersoek deur die Valke het die verdagte met beide misdaadtonele in Cradock en Hofmeyr verbind. Die verdagte sal sy eerste verskyning voor die Cradock-landdroshof op 28 Augustus maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’