MIDDELBURG NEWS — 'n Bekende bejaarde paartjie van Middelburg het onlangs hul diamant-huweliksherdenking gevier.
Dr Piet Roux en sy eggenote Jane is op 6 Julie 1957 getroud en herdenk dus dié jaar hul troudag vir die 60ste keer.
Die Roux-egpaar het die merkwaardige gebeurtenis op Saterdag, 8 Julie, met 'n geselligheid saam met familie, kinders en kleinkinders by die Celtis Country Lodge & Restaurant in Middelburg gevier.
Die legendariese Karoo-wetenskaplike, weidingsekoloog en plantkundige, Dr Piet Roux, het ook op 8 Mei dié jaar sy 90ste verjaarsdag gevier!
Piet en Jane is welbekendes in Middelburg - hulle was jare lank verbonde aan die Grootfontein Landboukollege waar Dr Roux ook as direkteur van die kollege gedien het.
Dr Roux het in 1968 sy PhD oor die ekologie van Stormbergplatblaargras (Tetrachne) verwerf. Hy is ‘n kenner van Suid-Afrika se ariede gebiede en ook ‘n droogte deskundige. Dr Roux het baanbrekerswerk oor Veldbestuur en Karooplantegroei gedoen, veral oor Stormbergplatblaargras.
Die geselligheid wat deur hul dogter Ankie gereël is, was ‘n groot sukses en daar was tot laat Saterdagaand gekuier en gesels. Die Roux-egpaar spreek graag hul dank uit teenoor almal wat van ver af gereis het om dié funksie by te woon.
'We bring you the latest Middelburg, Karoo news'