MOLTENO NUUS - 'n Ernstige motorongeluk, wat sy seun Flippie junior (33) kwaai gestremd gelaat het, was wat Flippie Horn (55) gemotiveer het om sy lewenslange stokperdjie voluit saam met sy seun te beoefen.
"Ek wil houtwerk meer intensief beoefen en my seun ook betrokke maak daarby."
Flippie junior is in Molteno bekend as die man wat die mooiste kruise maak. Sy pa is weer bekend daarvoor dat hy graag klanktoerusting maak. Hy het byvoorbeeld 'n klankboks (boom box) met 'n houtraamwerk bedek en in 'n voertuig verander.
Nou kan hy musiek vanaf sy selfoon daardeur speel. Hulle prakseer ook bedlampies, juwelekissies met pragtige uitsnywerk en hul versier ook graag houtwerk met vuurhoutjieplakwerk. Dan is die twee ook bekend vir die pragtige muurhorlosies wat hulle maak.
Flippie Horn (33) maak die mooiste houtkruise.
Die gesin is destyds swaar getref deur die ongeluk waarin Flippie junior beseer is toe sy fiets met 'n voertuig gebots het. In daardie stadium het die ma van die gesin, Dirkie, 'n ernstige beroerte op 'n baie jong ouderdom gekry.
Die gemeenskap staan saam om die gesin te ondersteun en is ook betrokke by die bemarking van die artikels, wat hul inkomste aanvul.
Die egpaar het ook 'n dogter wat in Jeffreysbaai as 'n tuisversorger na 'n bejaarde omsien.
Een van die houtspeelgoed wat Flippie Horn (55) uit hout gemaak het.
'Ons bring jou die nuutste Molteno, Karoo nuus'