Update
GRAAFF-REINET NUUS - Oudleerders van Spandau gaan in Oktober 'n borsbeeld van hul voormalige hoof, Frederick Hufkie, ook bekend as 'Chief', by die museum onthul.
Dit vorm deel van 'n Fred Hufkie Legacy Celebrations-naweek wat van 7 tot 9 Oktober beplan word.
Volgens Ashley Theron, voorsitter van die Fred Hufkie Era Spandaunians, het 'n klein groep Spandaunians op Facebook begin gesels oor hoe hulle hul voormalige skoolhoof kan eer.
Hulle het Ezzard Hufkie sowel as die res van Hufkie se sibbe genader om meer inligting oor sy tyd by Spandau Sekondêr te bekom.
"Ons het uitgevind dat nog 'n groep oudleerders 'n soortgelyke idee in 2015 gehad het en vandaar die besluit om die borsbeeld te laat maak."
Volgens Theron is hul hoofdoel om Hufkie te eer, maar ook die ander leerkragte wat tussen 1951 en 1977 by die skool betrokke was.
"Ons wil ook hulde bring aan ons mede-leerders wat ons al ontval het en mekaar as familie ondersteun."
Volgens hom is daar besluit dat alle Spandau-leerders en -onderwysers wat tussen 1951 en 1977 by die skool betrokke was, sowel as enigiemand wat Hufkie geken het en 'n finansiële bydrae tot die projek kan maak die Fred Hufkie Legacy Celebrations kan bywoon.
"Die hele dorp word egter uitgenooi na die onthulling van die beeld."
Die program:
- Vrydagaand – Registrasie, ontmoet-en-groet en die bring en braai by Spandau Sekondêr.
- Saterdagoggend 10:00: Onthulling van die Fred Hufkie-borsbeeld by die Graaff Reinet-museum.
- Saterdagmiddag – gee terug aan Spandau Sekondêr.
- Saterdagaand - 'n Formele galageleentheid om die lewe en nalatenskap van die hoof te vier.
- Sondagoggend – Diens by Spandau Sekondêr.
- Sondag na kerk – Besoek aan die graf(te) van wyle Fred en sy vrou, Rhoda Hufkie.
Vir meer inligting kan Theron by 083 825 9699 of Marion Le Britton by 084 578 8143 gekontak word.
Vorige artikel: Borsbeeld vir oudskoolhoof
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'