CRADOCK NUUS - Sowat 200 oudskoliere het opgedaag vir ‘n gesellige Knipmesbraai by die CHS-klubhuis by Hoërskool Cradock.
Volgens Charles Garth, oudskolier van Hoërskool Cradock is hierdie geleentheid ‘n jaarlikse instelling en word goed ondersteun.
“Altesaam agt skape is op die onderskeie spitte gebraai en ‘n puik veiling agterna van donasies wat ontvang is, het ‘n goeie inkomste verseker. Braaiers wat die vleis op die spitte dopgehou het, was Wayne de Beer en sy seun, Hilton Frost en sy seun asook Neels Goosen en sy seun.”
Stollie Duvenage, voorsitter van die Hoërskool Cradock Oudskoliere, was in beheer van alle voorafreëlings rondom die braai.
“Die sukses van hierdie tipe geleenthede is ook afhanklik van die gemeenskap se betrokkenheid en daarom word Lockeroom, BKB, Tams Hardeware, Dynamic Hardeware en Arms en Ammo bedank vir hul ruim donasies om hierdie geleentheid te ondersteun,” sê Duvenage.
Reünie
Hoërskool Cradock is ook besig om hul vere reg te skud vir hul 50 jaar reünie, wat vanaf 3 tot 8 Augustus in Cradock gehou word. Die reünienaweek neem reeds die Woensdagoggend 'n aanvang met ‘n veeveiling by die skouterrein vanaf 11:00 en ‘n duiweveiling die aand, wat afgerond word met ‘n biefstukete daarna.
Dit sal in ‘n markiestent op die skoolterrein aangebied word. Die leerders hou op 4 Augustus hul ‘Big Brag’-geleentheid en op 5 Augustus skop die naweek op groot skaal af met alle sportaktiwiteite.
‘n Gala-aand vir genooide gaste by die Elize Coetzee-saal, en alternatiewelik ‘n heerlike musiekaand by die Oudskoliere-klubhuis.
Saterdag 6 Augustus word daar voortgegaan met sportaktiwiteite teen Hoërskool Gill van Somerset-Oos, ‘n spesiale ontbyt vir oudskoliere word aangebied by Huis Rocklands, daar sal geleentheid wees vir besoeke aan die skool en museum. Saterdagaand sal afgesluit word met ‘n informele spitbraai en musiek in die markiestent by die skoolterrein, of as alternatief moontlik ‘n dinee by Victoria Manor.
Die oudskoliere word genooi om as groep ‘n kerkdiens by die NG kerk, Cradock Noord-gemeente vanaf 09:30 by te woon op Sondag 7 Augustus, en op Maandag 8 Augustus word ‘n 4 bal-uitdaging by Cradock-gholfklub gereël. Inskrywings is reeds oop.
Charels Garth, wat die reünie reël, sê hulle vra dat soveel as moontlik van ons oudskoliere die naweek by hulle sal aansluit.
"Die Klubhuis sal die hele naweek oop wees. Ons het ook daarin geslaag om die dienste van Jacques Arendt van RSG-faam vir die hele naweek as musiekmaker en seremoniemeester te bekom."
Navrae kan aan admin@chsalumni.co.za gerig word.
Van links is: Eben van Heerden (onderwyser by CHS), Juan Nortjé Borg (Lockeroom), Charles Garth en Lou Venter (Arms and Ammo).
Van links is Danie Coetzer, Piet Geyer, Martin Labuscagne en Braam Coetzee tydens die braai.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'