CRADOCK NUUS - Sowat 200 oudskoliere het opgedaag vir ‘n gesellige Knipmesbraai by die CHS-klubhuis by Hoërskool Cradock.
Volgens Charles Garth, oudskolier van Hoërskool Cradock is hierdie geleentheid ‘n jaarlikse instelling en word goed ondersteun.
“Altesaam agt skape is op die onderskeie spitte gebraai en ‘n puik veiling agterna van donasies wat ontvang is, het ‘n goeie inkomste verseker. Braaiers wat die vleis op die spitte dopgehou het, was Wayne de Beer en sy seun, Hilton Frost en sy seun asook Neels Goosen en sy seun.”
Stollie Duvenage, voorsitter van die Hoërskool Cradock Oudskoliere, was in beheer van alle voorafreëlings rondom die braai.
“Die sukses van hierdie tipe geleenthede is ook afhanklik van die gemeenskap se betrokkenheid en daarom word Lockeroom, BKB, Tams Hardeware, Dynamic Hardeware en Arms en Ammo bedank vir hul ruim donasies om hierdie geleentheid te ondersteun,” sê Duvenage.
- Lees meer in Donderdag se Graaff-Reinet Advertiser, as ook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'