GRAAFF-REINET NUUS — Die restourasie van Reinethuis wat in September 2016 ’n aanvang geneem het, is in Mei van hierdie jaar voltooi.
Volgens Anziske Kayster, hoof van die museum, is besoekers baie opgewonde oor die merkbare verskil in die voorkoms van Reinethuis en verneem hulle graag hoe die restourasieproses verloop het en watter kenner met soveel insig die proses beplan en uitgevoer het.
Sy verduidelik dat die restourasieproses ingewikkeld en uitgebreid was.
Die grasdakke van Urquharthuis en Reinethuis is byvoorbeeld heeltemal vervang en nie net geherkompakteer, soos wat in die verlede gedoen is nie. Die museum het toe eenvoudig nie oor die nodige fondse beskik om die grasdakke te vervang nie en om te herkompakteer was die naasbeste opsie.
Met die befondsing wat van Die Rupert Historiese Huise Stigting verkry is, kon die grasdakke van die waenhuis en meulhuis boonop ook vervang word.
Al die houtwerk van Reinethuis soos die deure, hekke, hortjies, vensters en vensterbanke is vervang of deeglik herstel. Dit was baie duidelik dat die Karoo se klimaatuiterstes sy tol geëis het op bogenoemde houtwerk.
In baie gevalle was dit moeilik om hout soos geelhout in die hande te kry, maar Peter Whitlock, voorsitter van die Trusteeraad en historiese argitek, was vasbeslote dat die reëls van outentieke restourasie nougeset nagevolg moes word. Dit het gelei tot ’n soektog na geelhout. Elke verlore skroef is vervang en die kontrakteurs moes seker maak dat die slotte werk en dat die skuifraamvensters gemaklik oop en toe gaan.
Een van die moeilikste take van die kontrakteur was om te verseker dat die gevleuelde uurglas, deel van die dekoratiewe elemente op die voorste gewel, met ’n epoksi-pleisterkalk (grouting) behandel word om waterdigtheid te verseker en om die gaping tussen die muur en die uurglas op te vul. Ook hierdie taak is met sorg aangepak en voltooi. Die mure van die gebou waar pleister besig was om te verweer, is met ’n kalkagtigepleistermengel behandel. Die proses is selfs rondom die gewels, lyste en krone herhaal en daarna is die meeste mure met kalk afgewit.
Die restourasie van die voor en -agterstoep het die permanente personeel van die museum baie hoofbrekings besorg. Die verweerde sement tussen die plaveiselstene is uitgeboor, dit het geweldige stof veroorsaak. Elke gesonke steen is verwyder en opgevul om die stoepe waterpas te maak en daarna is die hele stoep verseël en waterdig gemaak.
Metaal- en koperwerk het ook aandag geniet. Die dekoratiewe ysterwerk is met ’n staalborsel liggies afgeborsel, roes is verwyder en daarna het dit twee verflae gekry. Selfs die gedraaide koperspitsversiering op die reling van die voorstoep wat in ’n stadium deur vandale verwyder is, is vervang.
Woorde kan nie reg laat geskied aan die eindresultaat nie.
Die Trusteeraad van die Museum is baie dankbaar vir die wonderlike ondersteuning van Die Rupert Historiese Huise Stigting ontvang. Hulle beskou die restourasie van Reinethuis as ’n tasbare herinnering aan hul strewe na die behoud van erfenis hier op ons pragtige historiese dorp. Die stoepe kan weer opnuut die laste van baie voete dra en die houtwerk die druk van klimaatsuiterstes.
Graag wil die Trusteeraad hul dank uitspreek teenoor Peter Whitlock en die onderskeie kontrakteurs (Lucas Quality Thatchers van George en plaaslike kontrakteurs The Polish Way Construction en Serfontein en Seun Skrynwerkers) wat almal ‘n groot aandeel het in die suksesvolle eindresultaat.
Hulle bydrae was van onskatbare waarde en dit was voorwaar ’n voorreg om hulle aan die stuur van sake te hê. Hul dank gaan ook aan die toegewyde personeel van die museum wat tydens die restourasieproses baie vrae van besoekers moes beantwoord.
Die personeel het ook met die grootste sorg die uitstallings en versamelings teen stampe en stote beskerm en nodeloos om te sê dat hulle gedurig moes poets en poleer.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'