KAROO NUUS - 'n Voormalige hoofseun van Hoër Volkskool in Graaff-Reinet, Heinz Bertram, het Maandagaand in die Varsity Cup-eindstryd vir Noordwes Universiteit se Eagles uitgedraf teen die Universiteit van Kaapstad se Ikeys.
Die wedstryd is regstreeks op DStv-kanaal 211 uitgesaai en Suid-Afrikaners het aanskou hoe die Eagles die Ikeys in 'n naelbytstryd 27 - 25 verslaan.
Heinz het in 2018 gematrikuleer en na skool menslike beweegkunde aan NWU gaan studeer waar hy nou sy honneursgraad doen.
Sy ouers, Henlein en Dianne Bertram, is baie trots op Heinz, die oudste van twee seuns. "Heinz kan 'n inspirasie vir baie mense wees," sê Dianne.
"As daar een ding is wat 'n mens by hom leer is dit deursettingsvermoë. Hy het ongelooflike uithouvermoë."
Sy vertel hoe hy, ten spyte van vele struikelblokke, homself steeds op rugby toespits. Aan die begin van sy matriekjaar het Heinz sy knie gebreek, maar omdat hy sy rehabilitasieprogram getrou gevolg het, kon hy weer begin rugby speel.
In sy eerste jaar op NWU is Heinz in die oefengroep van die Varsity Cup opgeneem. Die jaar daarna het hy 'n beentjie in sy voet gebreek maar steeds aanhou speel. Verlede jaar het hy in die Varsity Cup gespeel, maar die laaste twee wedstryde kon hy nie speel nie omdat hy harsingskudding opgedoen het.
Die ongeluksvoël het Heinz hierdie jaar verder agtervolg en op 27 Januarie het hy weer 'n kniebesering opgedoen. Verskeie spesialiste het gesê dat daar geen hoop is dat hy verder kan speel nie, maar hy wou niks hoor nie.
Sy redenasie was dat sy knie in elk geval "klaar opgemors" is en dat hy gaan speel totdat hy nie meer kan nie omdat dit is waar sy hart lê.
Net voor die Varsity Cup se halfeindstryd moes hy 'n kraakbeentjie in sy knie laat verwyder, maar vyf dae na die operasie het hy weer begin oefen en nege dae na die operasie het hy in die halfeindstryd gespeel.
"Ons glo dat dit net deur die Here se genade is wat hy nog kon speel," sê Dianne. "Waar daardie kind sy uithouvermoë en deursettingsvermoë vandaan kry weet ek nie, maar dit is seker maar so wanneer 'n mens werklik 'n passie vir iets het. Ek het natuurlik 'n hele paar grys hare bygekry."
Maandagaand se plek in die eindstryd was nie Heinz se eerste groot prestasie op die rugbyveld nie. In sy matriekjaar is hy opgeneem in die o. 18-span wat aan die VKB-rugbyweek in Reitz deelgeneem het.
In 2021 het hy vir die Leopards in die Curriebeker eerste liga eindstryd uitgedraf en die toekenning vir beste opkomende speler van die Leopards ontvang. Verlede jaar het die NWU-rugbyinstituut hom vereer vir sy volgehoue prestasie in akademie, rugby en algemene balans.
Heinz en sy gesin spog met die Varsity Cup wat hierdie jaar vir die tweede keer deur die NWU Eagles ingepalm is. Die Bertram-gesin is van links: broer Dieter, pa Henlein, Heinz en ma Dianne.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’