WILLOWMORE NUUS - Laasmaand het Elmor Primêr 'n oud-leerder terug verwelkom as spreker by die skool se prysuitdeling.
Dr Lynn-Carmen Hendricks-Sarels het haar skoolloopbaan in 1994 dié laerskool in Willowmore se voorskoolse groep Nomzamo begin.
"In 1995 was sy een van ons eerste leerders in ons nuutgestigte Graad R klas," het 'n woordvoerder van die skool gesê. In 2001 was sy hoofdogter van die skool, en sy is ook gekroon as Mej. Elmor Primêr.
Hendricks-Sarels is in haar matriekjaar aan Willowmore Sekondêr ook aangewys as hoofdogter, en sy het Graad 12 geslaag met onderskeiding.
In 2015 kwalifiseer sy as dokter aan die Universiteit van Stellenbosch, nadat sy ook in Kuba opgelei is. Sy praat vandag steeds vlot Spaans, en praktiseer sedert 2018 by die Midlands Hospitaal in Graaff-Reinet.
"In haar toespraak het sy veral erkenning gegee aan haar vorige opvoeders by Elmor Primêr wat haar akademiese fondament gelê het," het die skool gesê. "Sy het die leerders inspireer met haar lewensverhaal en hulle aangemoedig om, ten spyte van jou omstandighede , geleenthede wat na jou kant toe kom met albei hande aan te gryp."
'Ons bring jou die nuutste Willowmore, Karoo nuus'