Oud-Kwagga, Greta Neethling (néé Kurtz), wat in 1997 aan Hoërskool Outeniqua in George gematrikuleer het, is een van slegs drie sitotegnoloë in die wêreld wat pas 'n reisbeurstoekenning ontvang het om 'n kongres in Baltimore in die VSA by te woon.
Die kongres vind in November plaas en word gesamentlik gereël deur die Internasionale Akademie vir Sitologie en Amerikaanse Vereniging vir Sitopatologie.
Die kongres het vroeër vanjaar 'n reisbeurs-toekenning bekendgestel waarvoor internasionale sitotegnoloë kon aansoek doen. Die prys word toegeken aan iemand wat leierskap, inisiatief, toewyding en 'n passie vir sitologie toon.
Slegs drie sulke beurspryse is vir aansoekers van oor die wêreld beskikbaar gestel.
Aansoekers moes hulle CV en 'n motiveringsbrief instuur vir beoordeling.
'n Verheugde Neethling het gesê sy is baie opgewonde. "Die kontantprys is genoeg om my verblyf in Baltimore en vliegtuigkaartjie te betaal. Een van die groot voorregte vir my gaan wees om die bekende Johns Hopkins-hospitaal te besoek wat een van die top-10 kankerbehandelings-hospitale in die VSA is."
Sy is betrokke by servikale kankernavorsing en die titel van die projek wat sy gaan voordra by die kongres, is 'Assessering van die behandelingstempo in vroue met abnormale papsmere in Suid-Afrika'.
Neethling het ná matriek in mediese tegnologie aan die Kaapse Technikon gaan studeer. Haar hoogste kwalifikasie is 'n meestersgraad in mediese wetenskappe (anatomiese patologie) wat sy van Universiteit Stellenbosch verwerf het.
Sy werk tans by die Nasionale Gesond-heidslaboratoriumdienste (National Health Laboratory Service - NHLS) in die sitologielaboratorium.
Sitologie is die mikroskopiese ondersoek van selle om infeksies of kanker by mense te diagnoseer.