NIEU-BETHESDA NUUS - Stirling Pienaar (85), 'n bekende oud-burgemeester, sportman en boer van Nieu-Bethesda, is vroeg Saterdagoggend, 8 Junie, in George oorlede.
Hy is op 26 Augustus, 1933 gebore.
Pienaar was een van sewe kinders van Arnold en Isa Pienaar, wat op die familieplaas, De Toren, geboer het.
Hy het sy laerskoolloopbaan in Nieu-Bethesda begin en aan Hoër Volkskool gematrikuleer.
As leerder van Hoër Volkskool het hy rugby en tennis beoefen. Pienaar het hom ook op boks toegespits en uitgeblink. Na skool het hy op op die familieplaas met die boerdery gehelp.
Hy en sy neef, Rendo Pienaar, het toe hul boerdery-kennis in Australië op 'n merino-proefplase gaan uitbrei. Met sy terugkeer het hy die plaas Aasvoëlkrans, naburig aan die De Toren-familieplaas, gekoop. Daar het hy en sy vrou Suzette tot hul aftrede gewoon.
As 'n suksesvolle boer het hy steeds in sport uitgeblink, en vir die Oostelike-Provinsie uitgedraf.
Hy het ook tot in sy sewentigsjare tennis gespeel. Hy was die voorsitter van die Sneeubergboerevereniging, president van die tennisklub, diaken en later ouderling in die kerkraad.
Uit sy huwelik is drie dogters, Lindie, Yvette en Isabel gebore.
'Ons bring jou die nuutste Nieu-Bethesda, Karoo nuus'