HOFMEYR NUUS - Die gemeenskap van Hofmeyr het saamgewerk om die onwettige stortingsterrein langs die R390, by die ingang na hul dorp, te rehabiliteer. Lottoland het ruim bygedra om die projek die lig te laat sien.
Die pad tussen Cradock en Hofmeyr is van 1972 tot 1975 aangelê. 'n Klip- en gruisgroef is op die twee hektaar links van die pad na Hofmeyr, uitgegrawe. By voltooiing van die pad het net die groot gat oorgebly.
Die padowerheid het dit omhein en net so agtergelaat.
In die jare wat volg is die omheining tot niet en het dit in 'n stortingsterrein verander waarin bakkievragte tuin-, bou- en huisrommel asook verpakkingsmateriaal gegooi is.
Hoewel Hofmeyr oor 'n munisipale stortingsterrein langs die Schoombee-roete, teenaan die rioolstortingsdamme beskik, het inwoners nie meer daarheen gery om van allerlei vullis ontslae te raak nie, en het dit ook mettertyd in dié gat beland.
Met losloperdiere en geen kontrole nie, is die sakke geskeur en het vullis oral oor die veld begin waai. Hierdie stortingsterrein het vinnig in 'n onooglike area verander.
Die morsige twee hektaar voordat dit Augustus verlede jaar gerehabiliteer is.
Hofmeyr Hugs of Hope het by Lottoland aansoek gedoen vir finansiering en gedurende Augustus verlede jaar is die grootskaalse restourasie van hierdie terrein aangepak.
Hofmeyr-landbouvereniging, Laerskool Schoombee en Laerskool Hofmeyr het saam die reusetaak, om hierdie stuk rond te rehabiliteer, binne twee weke afgehandel.
Na vier maande is die terrein oortrek met vestigingsplantegroei waar voëls in poele water bad en die natuur oorneem. Hofmeyr Sekuriteit het ook kameras opgestel om die area te monitor vir enige ongerymdhede.
Langs die ingang na Hofmeyr word geen dwarrelende plastiese sakke meer toegelaat nie.
Leerders van Laerskool Hofmeyr, onder die wakende oog van skoolhoof, Hannes Meintjies, stap elke Donderdag tydens tweede pouse die kilometer tot by die stopstraat met swart sakke om te kyk of daar vullis is wat hulle kan optel.
"Na die Desembervakansie het daar nie eers een sak vol vullis teruggekom nie. Die leerlingraad het die roete tydens hul inhuldiging gestap en wat 'n groot verskil was dit nie," vertel Meintjies trots.
Na die rehabilitasieproses was daar net 'n kaal stuk grond wat gewag het vir reën.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’