GRAAFF-REINET NUUS - Eienaars wat eiendom in die Dr Beyers Naudé munisipale area besit is hewig ontevrede nadat die munisipaliteit die eiendomswaardasies van eiendomme drasties verhoog het, omdat dit 'n direkte invloed het op erfbelasting en dienstariewe wat aan die munisipaliteit betaalbaar is.
Alle eienaars het tyd om teen 11 Maart beswaar teen die algemene waardasierol vir 2024-2029 in te handig.
Die Graaff-Reinet Residents and Ratepayers Association (GRRPA) is van mening dat gedeeltes van die nuutste munisipale waardasierol nie geloofwaardig is nie en ondersoek vereis.
Appels is duidelik nie met appels vergelyk nie sê die GRRPA en daarom is dit van kardinale belang dat alle eienaars die waardasies van hul eiendomme moet nagaan en seker moet maak dat besware betyds en in die korrekte formaat ingedien word.
‘n Graaff-Reinet huiseienaar het haarself tot sosiale media gewend en sê sy dat haar huis se waarde met R567 000 gestyg het. "Dit is daylight robbery! Hoe styg die waarde van ‘n huis vanaf R833 000 na R1,4 miljoen in een jaar? Dit is ‘n absolute bedrogspul, sê sy en beklemtoon dat sy beslis beswaar gaan maak.
Aberdeen
Colleen Ogilvie, sekretaresse van Aberdeen se belastingbetalingsvereniging, is van mening dat die waardasies in Aberdeen oor die algemeen nie so sleg soos dié in Graaff-Reinet is nie. Aberdeen se waardasies toon egter min of meer dieselfde styging as vyf jaar gelede. Sy noem dat munisipale waardasies van eiendomme in Aberdeen wel blyk om meer te wees as waarvoor dit gekoop of verkoop kan word, maar voeg by dit waarskynlik met die vooruitgang van Aberdeen verband kan hou.
Willowmore
Volgens raadslid Ewald Loock heers daar oor die algemeen ook groot ontevredenheid oor die waardasies in Willowmore. “Jy kan egter op jou kop staan en jou gesig met jou onderhemp afvee, maar jy gaan niks daaraan gedoen kry tensy jy nie individueel beswaar maak nie.”
Hy is van mening dat die enigste ding wat op hierdie stadium gedoen kan word is om alle eienaars van eiendomme aan te moedig om beswaar aan te teken. Volgens hom is daar ook ander foute op die waardasierol soos sommige skakelhuise met twee verskillende titelaktes wat as een eiendom gewaardeer is.
Steytlerville
Hanli Buber, voorsitter van die Steytlerville Residents Forum en die Dr Beyers Naudé Residents and Ratepayers Action Group, sê dat die eienaars van eiendomme in Steytlerville bitter ongelukkig is oor die munisipale waardasies. “Baie mense gaan kapsie maak, maar ek weet nie of dit enigsins gaan help nie," sê sy.
Jansenville
Volgens raadslid Mandy Deyzel het ongeveer 30% van eiendomseienaars in Jansenville die waardasierol gaan besigtig en hulle is glad nie tevrede nie. Die eienaars van plase in die Jansenville-distrik is egter heel tevrede omdat hulle reken dat die nuutste waardasierol beter as die vorige een is. Sy sê dat baie eienaars nie kennis van die waardasierol dra nie en voel dat die munisipaliteit die sluitingsdatum vir besware moet uitstel sodat mense beter ingelig kan word en gehelp kan word.
Nieu-Bethesda
Volgens 'n inwoner van Nieu-Bethesda, wil dit voorkom asof die waardasies van eiendomme in Nieu Bethesda realities is. "Die gemiddelde waardasie vir leë erwe hier is tans R220 000 en vir huise is dit tussen R880 000 en R1 miljoen. Almal het nog nie hul waardasies besigtig nie, maar die wat wel het is glo heeltemal tevrede daarmee," sê die inwoner.
Die munisipaliteit se algemene waardasierol vir 2024 tot 2029 kan aanlyn besigtig word asook die beswaarvorms. Dit is ook by die DBNPM se kantore beskikbaar.
Die DBNLM is genader vir kommentaar rakende die nuwe waardasierol, maar geen korrespondensie is nog ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’