ABERDEEN NEWS - Zettie Darries, 'n inwoner van Lotusville, Aberdeen het besluit dit is tyd dat die alombekende klipgepakte Aberdeen-naam van die dorp teen die koppie langs die N9-hoofweg, afgerond word.
"Daar waar die "n" van Aberdeen eindig, moet onse landsvlag in volkleur pryk," verduidelik Darries entoesiasties.
Watter beter geleentheid as Jeugdag, Vrydag 16 Junie, om die jeug van Aberdeen te betrek om klippe te pak en te verf, gesels Darries oor sy inisiatief vir Jeugdag.
Darries, 'n bekende verfkontrakteur in Aberdeen, het reeds in die beplanningsfase van Operasie Landsvlag besef alles sal nie op Jeugdag gedoen kan word nie. "Dit is nie een dag se werk nie. Die terrein moet skoongemaak en voorberei word; ons moet die struktuur en klippe se messelwerk doen en eers wanneer dit behoorlik geset het, kan die vlag op Jeugdag geverf word."
Darries en 'n spanmaat, Shaidon von Willing, het Saterdagoggend, 10 Junie, vroegdag begin met die voorbereidingswerk. 'n Hele paar vrywilligers het by hulle aangesluit en fluks ingespring om te help.
"Omdat die naam van die dorp uitgepak is teen 'n koppie en ontoeganklik is vir 'n voertuig, moes die manne die sement langs die N9-hoofweg meng en al die pad teen die kop uitdra in emmers. Hierdie is vir die jeug 'n geleentheid om vir hulself iets positief en konstruktief te skep waarna hulle daagliks kan kyk. Die jongelinge is opgewonde om Vrydag die kop uit te klim en te gaan verf," sê Darries.
Zettie Darries is die dryfveer agter Operasie Landsvlag. Foto: Alex Lombaard
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’