Update
ABERDEEN NUUS - Geen verdagte is nog in hegtenis geneem na die ontvoering van 'n vierjarige meisie verlede week in Aberdeen nie.
Die meisie en haar maatjie is verlede Dinsdag deur 'n man van haar huis af weggelok na hy hulle aartappelskyfies belowe het.
Die maatjie het egter nie saamgestap nie. Die vierjarige is daarna nie weer gesien nie.
Volgens een van die inwoners, Lionel von Wieling het die polisie, in samewerking met die plaaslike gemeenskap, verlede Dinsdag reeds na haar begin soek. Verlede Woensdag is 'n flink en deeglike uitgebreide soektog van stapel gestuur.
Die gemeenskap van Aberdeen het in groepe van vroeg Woensdagoggend af reeds die hele dorp en omliggende areas buite die dorp begin fynkam.
Die kind is namiddag deur een van die gemeenskapslede in die veld aangrensend tot die N9 buite die dorp teen die kop waarop die kenmerkende Aberdeen kruis opgerig is, gevind. Sy was halfnaak, met haar klere 'n ent weg van haar, totaal uitgeput en gedehidreer. Sy is dadelik na die plaaslike hospitaal geneem en is Vrydag ontslaan. Volgens Von Wieling is sy steeds geskok en bang.
Hy het verder gesê 'n verdagte is verlede week deur die gemeenskap aangekeer en aan die polisie oorhandig, maar hy is nie in hegtenis geneem nie.
"Die kind se ouers is wel vir kinder-verwaarlosing en mishandeling in hegtenis geneem. Die ouers moet in September voorkom."
Volgens kapt. Bennie Smit, bevelvoerder van Aberdeen SAPD, word die ondersoek deur 'n gespesialiseerde eenheid vanuit Somerset-Oos behartig.
"Omdat die slagoffer 'n minderjarige is, moet die ondersoek deur kundige spesialiste hanteer word. Aberdeen-polisie verleen wel alle hulp en bystand moontlik binne hulle jurisdiksie, maar is nie in beheer van die ondersoek nie. Met die ondersoek in 'n delikate fase, kan inmenging deur die publiek, al is dit met die beste bedoelings, die ondersoek nie net bemoeilik nie, maar ook nadelig raak. Die plaaslike gemeenskap word versoek en gemaan om met begrip en geduld die reg sy weg te laat gaan," het Smit gesê.
Volgens 'n verklaring van ao. Majola Nkohli, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, is die soektog na die kind deur polisielede van Gqeberha en die Cradock-honde-eenheid gedoen. Hy het bevestig dat die ouers van die vierjarige, onderskeidelik 37 en 39 jaar oud, vir kindermishandeling, kinderverwaarlosing en -verwerping in hegtenis geneem is en dat hulle op waarskuwing vrygelaat is.
"Die saak is tot 15 September uitgestel. Die polisie ondersoek steeds die omstandighede waaronder die kind verdwyn het."
Von Wieling, het intussen gesê dat die gemeenskap gefrustreerd en bekommerd is oor die veiligheid van hul kinders.
"Ons kinders is nie veilig nie en die gemeenskap se gemoedere loop hoog as gevolg van die onsekerheid."
Vorige artikel: Vierjarige ontvoer en aangerand
Die vierjarige meisie is by die bekende Aberdeen-kruis gevind.
Lede van die gemeenskap met die kind toe sy gevind is.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'