Gallery
ABERDEEN NUUS - Ná jare se droogte, gevolg deur twee besondere goeie reënseisoene, gekombineerd met beperkte munisipale hulpbronne, het Aberdeen in ‘n oorgroeide groen lushof verander.
Met die bome en bosse wat uit hulle nate bars, is van die onbeboude persele totaal oorgroei; party strate is gedeeltelik ingeneem deur onbeheerde bosgroei; en padtekens het in die groen verdwyn.
Die gebrek aan sigbare padtekens is gevaarlik - veral by kruisings. Die oorgroeide persele bied ook skuiling aan gure elemente en bemoeilik sigbare polisiëring. Ongelukkig bied dit ook geleentheid aan rommelstrooiers om redelik ongesiens allerlei rommel, van huishoudelike afval tot tuin- en bourommel, te stort.
Op Dinsdag 28 Februarie het eienaars van eiendomme in Aberdeen self begin planmaak.
Stil-stil, maar met die dreun van fris masjinerie, is daar op die hoek van Noord- en Bellstraat ontbos. Man en muis het teruggestaan vir trekker en kerwer.
Soos die proses in Bellstraat gevorder het, het werkers met handgereedskap ingespring en ‘n paar stoptekens “herontdek”.
Inwoners is die span vrywilligers uiters dankbaar. “Ek kan weer die berge sien! As hier nog ‘n stopteken was, sou ek dit ook nou kon sien, maar intussen bly die berge pragtig!” het een inwoner gesels.
‘n Ander het opgemerk: “As hulle net aanhou, gaan ons binnekort weer tweerigting-stofstrate hê. Ons is baie dank verskuldig aan die man en span wat hierdie inisiatief uit eie sak finansier en dryf – ons weet wie julle is!”
Tjop-tjop.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'