GRAAFF-REINET NUUS - Henry Thomson, een van die baanbrekers in die onderwys, het einde Oktober afgetree. Hy was die langsdienende personeellid in die distrikskantoor.
Henry het sy onderwysloopbaan by Paarl Gimnasium in die Wes-Kaap begin. Hy was die onderwyservoorligter wat ook wetenskap en wiskunde vir die laer grade gegee het.
In 1994 is hy aangestel as skoolsielkundige by Graaff-Reinet se skoolkliniek, wat later as die opvoedkundige hulpsentrum bekendgestaan het. Dr. EM Brooks was die hoof en later het Walter du Plessis hom by die sentrum aangesluit tydens die integrasieproses.
Talle leerders in die dorp én distrik is deur Henry getoets. Graaff-Reinet se distrikskantoor het in die nuwe bedeling vanuit die skoolkliniek begin vorm aanneem. Johan Rossouw was die eerste sameroeper in dié kantoor. MK Jack het verskeie kere as distrikshoof gedien en die wa deur die drif getrek.
In dié distriks-kantoor het Henry in verskeie portefeuljes gedien. Was hoof van die eksamenafdeling, van administrasie asook die spesiale behoeftesgroep wat MIV/Vigs-onderrig en eerstehulp aangebied het.
Hy was ook die Vodacom-sentrumbestuurder en assessor-moderator van die Mict Seta. Hy het ook jaarliks opgetree as die ongeruimdhede bestuurder by die merksentrums vir die nasionale eksamens.
Sy laaste aanstelling in die kantoor was as die hoof van e-leer in die distrik. In die gemeenskap het Henry diep spore getrap. Hy was een van die stigterslede van Radio Graaff-Reinet saam met Sakkie van Zyl en ander.
In die NG kerk het hy as ouderling die leiding in verskeie kommissies geneem. As 'n Gideon was hy behulpsaam om jaarliks die klein Bybeltjies te versprei aan die gr. 8-leerders en sy betrokkenheid met die Bybel-genootskap het gesorg dat die meeste skole in die distrik 'n groot Bybel ontvang heet. As tweede in bevel van Graaff-Reinet se Deeltydse Magte Komponent was sy bydrae tot gemeenskapsbeveiliging geensins gering nie.
Henry het ook die Oostelike Provinsie in gevegskietsport verteenwoordig. As diensskietspankaptein het hy ook in die OP-raad gedien. Henry het vir twee jaar in 'n ry die prys gekry as sportadministrateur tydens die departement sport se jaarlikse prysuitdeling.
Die vakbondwese het hom ook na aan die hart gelê. Hy is aangestel as die deeltydse Oos-Kaapse provinsiale vakbondverteenwoordiger vir drie jaar en hy is later verkies as die streekverteenwoordiger van die gebied.
Mettertyd is hy verkies tot die senior uitvoerende bestuur van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie op provinsiale vlak. Alhoewel hy 'n ruk gelede sy vrou, Anelle van Laer Volkskool, aan kanker moes afstaan, was die beplanning om in Jeffreysbaai te gaan aftree. Die gesin het reeds eiendom gekoop in Jeffreysbaai, waar baie Graaff-Reinetters al woon.
Henry gaan steeds pendel tussen Graaff-Reinet en Jeffreysbaai aangesien hy sy eiendom in Graaff-Reinet wil behou.
Met die twee seuns wat steeds in die onderwys is, een by Spandau Sekondêr en die ander in Adelaide, sal die Thomson-van steeds voortbestaan.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'