GRAAFF-REINET NUUS - Alle minibustaxi's in Graaff-Reinet is verlede maand aangesê om vanaf 23 Junie van die nuwe taxistaanplek in Goedhalsplein gebruik te maak.
Volgens Dennis Fortuin, waarnemende verkeershoof van die Dr Beyers Naudé-munisipaliteit, was die taxistaanplek by Market Square net 'n tydelike hawe.
Die rede vir die aanbring van die nuwe staanplek is om die veiligheid van alle padgebruikers te verseker en die beheer en vloei van die verkeer in Caledonstraat en Kerkstraat te verbeter asook om seker te maak dat die taxiverenigings van die nodige permitte en versekering beskik om passasiers te vervoer en voertuie padwaardig is om die publiek te vervoer.
Die sisteem waarvolgens taxi's passasiers moet vervoer is volgens Fortuin op 'n regverdige, roterende basis gebaseer.
Taxi's vertrek van die nuwe taxistaanplek om passasiers op te tel, en sal daar ten alle tye twee taxi's op die hoek van Studio 88 wees om ouer persone te akkommodeer.
Hy sê die sisteem waarvolgens die taxi-industrie gefunksioneer het, het nie aan nasionale verkeersreëls en -regulasies voldoen nie.
Daar is twee taxiverenigings in Graaff-Reinet: Norwich long distance-taxivereniging met George Smith as tesourier en Donovan Dampies as ondervoorsitter; en die Ncebo-taxivereniging met Alfred Viba as voorsitter en Simon Ngcenge as sekretaris-generaal. Albei die taxivereniging is tevrede en positief oor die nuwe besluit en verwelkom die nuwe verandering.
Fortuin wil hê dat die verenigings nou met die owerhede moet saamwerk om onenigheid te voorkom sodat daar verseker kan word dat die nuwe sisteem seepglad verloop.
Taxibestuurders moet ook professionele bestuurslisensies hê om lede van die publiek te vervoer. "Die munisipale verkeer gaan alles in hul mag doen om diegene wat nie gehoor gee aan die nuwe reël nie, en aanhou met wetteloosheid, voor die hof te bring."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’