GRAAFF-REINET NUUS — ReCollection Rides, 'n museum wat sy deure in Kollegeweg, Graaff-Reinet, verlede week vir die publiek oopgestel het, is elke motorentoesias se droom.
Dié motormuseum bied besoekers 'n spesiale geleentheid om terug te kyk na amper 'n 100 jaar se motorgeskiedenis met sy unieke en opwindende versameling voertuie, motorfietse, speelgoedkarretjies en memorabilia, geleë in die pragtige omgewing van Graaff-Reinet.
Die museum is deur die bekende plaaslike afgetrede sakeman en veteraanmotor-geesdriftige, Hannes van Jaarsveld, gestig met sy persoonlike versameling van 43 motors.
Hannes het sy lewe lank reeds 'n passie vir motors en het hy sy versameling ongeveer twee jaar gelede met die aankoop van 'n 1984 Mercedes-Benz 230E begin.
"Die eerste motorvoertuie wat ek aangeskaf het was modelle wat my baie na aan die hart gelê het. Voertuie wat ek as kind leer liefkry het", sê Hannes.
Nou, 'n paar jaar later, bestaan die besonderse versameling uit 'n verskeidenheid ikoniese, klassieke en ou motors wat entoesiaste se mond sal laat water.
Buiten die motors, is daar ook 11 motorfietse, 'n versameling speelgoedkarretjies en 'n koffiewinkel wat die museum se vloerspasie van 1350 vierkante meter volstaan. Die museum bestaan uit twee persele geleë te Kollegeweg 38 asook by nommer 29, aan die oorkant van die straat.
"My waardering vir ou motors spruit uit die feit dat ek hulle beskou as kunswerke en as blyke van die smaak en die tegnologie van die tye en lande waarin hulle vervaardig is. Ek wil graag dié stukkies geskiedenis vir die volgende geslagte bewaar en nalaat," vertel hy.
Sy belangstelling in klassieke motors het ook oorgespoel na sy seuns Morne, Marco en Johan, wat elk ook tot dié versameling bygedra het.
Tussen die drie broers en hul pa is daar gesorg dat dié versameling motorvoertuie van elke soort en styl behels.
Die skaarsste motor onder al die rygoed is 'n blink gepoetste blou 1940 Buick 41C Convertible waarvan daar slegs 542 in 1940 vervaardig is en net dié een in Suid-Afrika te vinde is. Verder is die oudste voertuig in die versameling 'n 1922 Wolseley E3 Doctor's Coupé.
'n Mustang 351 Mach 1 en 1963 Volkswagen 'Split-Window' bus sal ook motorentoesiaste se belangstelling prikkel, terwyl 'n skaars BMW R69S diegene sal fassineer wat 'n liefde vir klassieke motorfietse het.
Deel van die versameling by ReCollection Rides, is 'n vertoonkas met speelgoedkarretjies wat die een muur amper van die vloer tot dakhoogte buffer teen buffer volstaan.
Dié versameling is al so stukkie oor die 600 sterk en word daar deurentyd tot dié versameling bygevoeg.
Onder die fassinerende skatte te vinde by die museum, is daar ook talle outentieke advertensieborde en straattekens - aandenkings uit toeka se dae - wat op die mure pryk.
Die publiek word uitgenooi om die unieke toevoeging tot Graaff-Reinet se besienswaardighede self te kom besigtig, te waardeer en te geniet.
Toegang, wat 'n besoek aan beide persele van die museum insluit, beloop R30 per persoon en kan die museum van 08:30 tot 17:00 op weeksdae en van 08:30 tot 12:00 op Saterdae besoek word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'