NIEU-BETHESDA NUUS - Na jare sonder iemand in die tuig, het die Uilhuis in Nieu-Bethesda nou uiteindelik 'n kurator.
Kurator Amanda Snyman, 'n kenner van glaskuns en 'n voormalige dosent aan Nelson Mandela Universiteit (NMU), het reeds in 2018 in 'n raadgewende posisie by die Uilhuis as vrywilliger begin werk.
In 2019 is die Uilhuis formeel geakkre-diteer deur die Suid-Afrikaanse Erfenishulp-bronagentskap (Sahra) en Snyman se posisie is aangepas.
Sy is as konsultant aangestel en vir die opeenvolgende jare spandeer sy ten minste vyf weke 'n jaar in Nieu-Bethesda om te werk aan veral die glas wat reg deur die huis 'n tema is.
Oorspronklik was sy net gefokus op glas, maar later het haar rol verder gegroei om verskillende aspekte van die Uilhuis se bewaring en restourasie in te sluit.
"Alles wat ons hier doen is omkeerbaar. Ons sal byvoorbeeld 'n beeld wat erg beskadig is benader, seker maak dat 'n sekere proses werk en die proses dan stadig en noukeurig implementeer. Indien ons sien dat iets verder skade veroorsaak of nie volhoubaar is nie, sal ons dit dadelik stop, omkeer en 'n nuwe proses begin."
Snyman het tydens haar B.Tech in druk-werk haar passie ontdek toe sy in haar finale jaar glaswerk as vak geneem het. Na haar studies het sy die universiteit se glasdepar-tement oorgeneem en die vakgebied ontwikkel en vernuwe.
Die departement het op daardie stadium slegs op gebrandskilderde glas gefokus en sy het nuwe, moderne tegnieke ingebring. Haar fokus was op veral oond-gevormde glas en koue werk.
Sy het van 2002 tot 2018 klas gegee, en in dié tyd het prof. Cleone Cull, in eie reg 'n kunstenaar en dosent in die kunste, haar genader om by die Uilhuis betrokke te raak.
AJV sê 'ja'
Tydens die algemene jaarvergadering van die Owl House Foundation (OHF) op Saterdag 22 November, het die raad aangekondig dat Snyman se posisie nou geformaliseer word deur haar as kurator aan te stel.
"Ons grootste werk wat voorlê is om die Uilhuis skoon te kry, die museum op so 'n plek te kry dat dit nie verder verniel word nie en om vorige skade om te draai. My doelwit is om die Uilhuis en die Kameeltuin na sy voormalige glorie te herstel," vertel Snyman.
Daar is ook heelwat nuwe uitdagings wat vir die kurator en die raad voorlê. Hulle wil 'n bewaringsentrum stig wat ook gebruik kan word vir werkswinkels en vir opleiding.
Die herorganisering van die argiewe van die Uilhuis is ook hoog op die lys vir die nuwe jaar.
Die span se grootste uitdaging is egter om die nodige geld in te samel.
'n Nuwe prentjieboek oor Helen Martins en die Uilhuis word beplan om te help met fondsinsameling.
Volgens André Marais, die voorsitter van die OHF, is hulle in hul noppies om aan te kondig dat Snyman as die Uilhuis se offisiële kurator aangestel is.
"Die aanstelling is as gevolg van die restourasiewerk wat sy reeds telke jare by die Uilhuis doen. Amanda is 'n hoogs professionele spesialis in glas en glaswerk asook die restourasie daarvan. Die aanstelling is 'n logiese gevolg van die passie, toewyding en professionalisme waarmee sy die herstelwerk van die Uilhuis aanpak," sê Marais.
Amanda Snyman
Bestuursraad
Tydens die OHF se algemene jaarverga-dering is die bestuursraad herkies. Die raad bly in plek vir die komende jaar met André Marais as voorsitter, Nils Flatten as ondervoorsitter, Daniel van der Merwe, Eugene Hönn, Bruce Rubidge (tesourier), Samantha Graham-Maré en Jo-Anne Pringle (sekretaris).
Vir meer inligting of om aan te sluit by die OHF, kontak die kantoor by 049 841 1733 of admin@theowlhouse.co.za. Die Uilhuis is in die somermaande elke dag van 08:00 tot 17:00 oop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’