ABERDEEN NUUS - Nóg die ysige koue, nóg ‘n kerksaal in duisternis gehul weens beurtkrag, kon op 26 Julie ‘n demper plaas op die NG Kerk Aberdeen se vrouediensbyeenkoms.
Met die tema - om jonk te wees, wat deur die Jeugdiensgroep aangebied is, was die fokus dat, al vorder mens in ouderdom, daar immer geleentheid bly om die jonkheid van gees te behou.
Die middag van ontspanne samesyn is gekenmerk deur spontane skerts en lag van die 25 vroue wat die geleentheid bygewoon het.
Volgens Hannelie van der Westhuizen was dit juis die doel om vroue in ‘n gejaagde, veeleisende lewe, veral die ouer garde, net weer vir ‘n oomblik te herinner aan die onbesorgdheid van jonk wees.
Engela James, voorsitter van die vrouediens, bevestig dat goeie terugvoer van waardering vir die inisiatief ontvang is.
Pretspeletjies soos "bokdrolspoeg" en ‘n frase se voorlees met ‘n mond propvol suurlekkers het die vroue behoorlik laat skaterlag.
Oomblikke van intense konsentrasie en konsternasie het gevolg in die speletjie waar glase vol water oor ‘n lang afstand nadergetrek moes word deur die oprol van ‘n rol toiletpapier.
Pryse is toegeken aan Lizé de Jager, wenner van die spoegkompetisie, Martie van Jaarsveld, wenner van die suurlekkerleser, Carla Greyling en Christelle Nel, wenners van die toiletpapier oprol, Lizelle Coetzer wat die snaakste was en Miems van Loggerenberg wat gesorg het dat almal lekker gelag het.
Die byeenkoms is afgesluit met partytjie eetgoed, wat ingesluit het smullekker en feestelik versierde kolwyntjies.
Foto: Alex Lombaard
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’