ABERDEEN NUUS - Die NG Kerk Aberdeen-gemeente het voorverlede Sondag, 5 Februarie uiteindelik weer 'n nuwe dominee gekry. Die gemeente was vir ongeveer 'n jaar sonder 'n inwonende predikant en het staatgemaak op tydelike en aflospredikante.
Ds. Clifford James is tydens die oggenddiens in die Aberdeen-gemeente ontvang, verwelkom en bevestig. Die tema van sy intreepreek was dat Christus ons prioriteit sal wees, met Skriflesing uit 2 Korintiërs 5:11-21.
Ná die erediens was daar 'n geselligheid in die kerksaal waartydens gemeentelede met ds. James, sy vrou Engela en hulle jongste seun, Simon kon kennismaak.
"Die bevestiging was vir my 'n geweldig emosionele oomblik," vertel ds. James.
"Toe ek daar staan en vir my vrou kyk, het my hart klein geraak. Toe sien ek my seun en ons dierbare vriende wat al die pad van Hopefield gekom het ... die emosie het my oorweldig en jy weet, my stem slaan mos sommer maklik deur."
Hy raak 'n oomblik stil, want net die gedagte aan die oomblik maak nogeens impak. "Toe ek op die kansel staan en hierdie ménse voor my sien, die verwelkomende, vriendelike, begripvolle gesigte, het ek geweet alles is reg."
Die James-gesin het 'n week tevore in Aberdeen aangekom ná 'n bediening van 12 jaar in die Hopefield-gemeente. Hulle het vir drie dae in Die Dorpshuis gebly terwyl hulle die pastorie ingerig het.
"Jy weet, as 'n mens so besig is, dink jy nie hoe jy gaan kos maak en waar jy jou kop gaan neerlê nie. En dit was so spesiaal hoe die mense vir ons gesorg het vir slaapplek en etes. Ons is met ope arms verwelkom."
Ds. James vertel dat hulle gewoond is aan klein plattelandse dorpe. Opvallend is dat hy nooit regtig trek vir die Karoo gehad het nie. "Totdat ek vir 10 dae 256 km in die Tankwa gaan stap het.
Ek het by die huis gekom en vir Engela gesê as ons ooit Karoo toe geroep word deur die Here, is ek reg om te gaan." Op die oomblik is die lekkerste nuutjie hier in Aberdeen dat die gesin kerk toe stap, want by die ander gemeentes waar hulle was, was die pastorie reg langs die kerk.
Ds. James het met sy intreepreek presies verwoord waarvoor hý glo hulle Aberdeen toe geroep is: "Christus is prioriteit en ons wil hier wees vir die mense van Aberdeen. My hart lê in die pastoraat; ek wil net hier wees vir mense wat my nodig het."
Met die meubeltrok voor die pastorie op Maandag 30 Januarie en die groot aflaai en uitpak wat begin, het hulle die blye tyding ontvang: "Julle is weer oupa en ouma!" Klein Matthys, eersteling van Elizabeth en Chris-Thys, het sy eerste aardse lig aanskou, weliswaar in die Kaap en nie in die Karoo nie en sonder Karoo-oupa en -ouma se wakende oog.
Ds. James probeer nie eers sy trots en dankbaarheid verbloem nie. "Ek glo dis waar jou kleinkinders hoort, hoor," sê hy terwyl hy met sy een hand op sy been klop en vertel van sy oudste kleinkind, Emilee.
Daar is nie twyfel nie: hierdie man is 'n mens-mens.
Die James-egpaar, Emilee en Clifford saam met kleinkind Emilee en kinders en skoonkinders agter, van links: Chris-Thys, Elizabeth, Simon, Eleanor en Gideon.
Kleinseun Matthys is op 30 Januarie gebore.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'