GRAAFF-REINET NUUS - Die NGK Graaff-Reinet gemeente het op 11 November die mylpaal van 228 jaar bereik. Hier vertel Sanet van Tonder meer oor die gemeenskap se geskiedenis. Haar man is Ben van Tonder, huidge dominee.
Kerk bekendes
Verskeie bekende geestelike leiers, insluitend ds. Andrew Murray en sy seun, ds. Charles Murray, het die gemeente gesamentlik vir 80 jaar geestelik bedien. Dr. DF Malan - later Eerste minister - was ook 'n predikant in NGK Graaff-Reinet.
Ds. JF Naude se seun, die internasionale bekende Beyers Naudé, is ook afkomstig van Graaff-Reinet. Hy het in NGK Graaff-Reinet belydenis van geloof afgelê en sy skooljare voltooi aan Hoër Volkskool. Oom Bey, pastorieseun van Graaff-Reinet, was bekend as een van die ware Christenprofete van ons tyd!
Hy is genomineer vir die Nobel Vredesprys en het ook 14 eredoktorsgrade verwerf. NGK Graaff-Reinet het baie predikante die geleentheid gegee om te studeer by die kweekskool in Stellenbosch, veral in die moeilike depressiejare.
Die gemeente het ook verskeie gesinne en families bygestaan tydens die groot griepepidemie in 1918. In die kerk se konsistorie hang 'n foto met die name van afgestorwenes van die pandemie.
Die kerk se eiendomme
NGK Graaff-Reinet het 'n groot rol gespeel in die dorp, aangesien verskeie eiendom deur die kerk besit was, onder andere die skole se koshuise, Edenhof en die kollege, om 'n paar te noem. Menige huise is uitverhuur en later verkoop aan individue of aan die staat.
Die pragtige huis voor die onderwysdepartement in Murraystraat, was een van die gemeente se pastorieë. Die grond waar die polisiestasie gebou is, was ook vroeër jare deur die gemeente besit. Die Sendingkerk het ook hier ontstaan en groot herlewing is in daardie jare aangeteken.
Die NG Kerk soos dit vandag in Graaff-Reinet lyk. Foto: Bipin Prag Photography
Konflik in die kerk
NGK Graaff-Reinet is baie meer as net 'n gebou. Jare se leeftyd van evangelieverkondiging, verhoudingsbou, ondersteuning, maar tog ook baie konflik (veral met leraars) is in die kerk se geskiedenisboeke opgeteken. Ds. Von Manger, die eerste predikant, het in 1795 net sy goed gepak en geloop!
Dit is te verstane dat, as gevolg van die konstante konflik, die kerk toe ook later jare sou skeur, en die NG Nuwekerk gestig is. Met ingrype van die Here, verskeie predikante se pogings tot eenwording en vergifnis, is die twee gemeentes weer een na 90 jaar van geskeurdheid.
Mag NGK Graaff-Reinet in die jare wat kom steeds ligdraers wees van hoop, liefde en vergifnis.
So het die kerk gelyk toe dit gestig is.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'