GRAAFF-REINET NUUS - Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Graaff-Reinet vier hierdie jaar hul 230ste bestaansjaar.
Die kerk is op 11 November 1792 gestig as sesde gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk aan die Kaap.
Dit is tans die oudste gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland asook die provinsie Oos-Kaap.
Ds. JH von Manger (1792-1795) is as Graaff-Reinet se eerste predikant aangestel. Die ouderlinge was Marthinus Wessel Pretorius en Jan Jacobs, en die diakens was Andries Pretorius en Barend Burger. Die eerste doopplegtigheid was op 20 Oktober 1792 en Susanna de Beer is op daardie dag gedoop.
Hierna is ds. HW Ballot (1798-1800) na die gemeente gestuur. Gedurende 1806 het ds. JJ Kicherer (1806-1815) die derde predikant van Graaff-Reinet geword nadat die gemeente herderloos was vanaf 1800 tot 1806.
Ds. Johannes A Schüuts die gemeente vanaf 1815 tot 1818 bedien en daarna was dr. Abraham Faure (1818-1822) die gemeente se laaste Afrikaner-predikant vir die res van die 19de eeu.
In die jare 20 van die 19de eeu het daar groot onenigheid in die Graaff-Reinet-gemeente ontstaan, hoofsaaklik weens die gebruik van Afrikaans as kanseltaal deur ds. JF Naudé. Hy was die vader van dr. Beyers Naudé.
Nadat herhaalde pogings tot versoening misluk het, het 'n groot aantal gemeentelede besluit om 'n afsonderlike gemeente te stig. Hierdie onafhanklike gemeente is op 4 September 1927 deur 621 lidmate tot stand gebring.
Die primêre doel hiervan was om Engels as kanseltaal te gebruik, maar dit is iets wat toe nooit in die praktyk gebeur het nie. Hierna was daar twee NG gemeentes totdat die hereniging van die NG gemeente Grootkerk en Nuwekerk op 21 Januarie 2018 deurgevoer is.
Vandag is die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Graaff-Reinet 'n geloofsfamilie waar almal saam aanbid, dien en groei. Die kerk fokus op familiebediening waar almal welkom en tuis voel.
Die kerk se drie-V-visie is: "Met ons hande Verheerlik ons God, Versorg ons mekaar en Vat ons die goeie nuus na die Wêreld".
Die missie van die kerk is dat 'elke bediening, span, aksie en lidmaat van die kerk sal dink en leef as gestuurde van God in hierdie wêreld.
Hierdie visie en missie word deur sewe-G-waardes ondersteun:
- Gebed: in alles soek ons luisterend na God se wil. (Fil 4:6)
- Geesgedrewenheid: ons leef onder die dinamiese leiding van die Gees (Rom 8:14)
- Gehoorsaamheid: ons aanvaar God se Woord as hoogste gesag (Joh 14:15)
- Gawes: ons gebruik al ons gawes binne en buite die gemeente (1 Pet 4:10)
- Groepe: ons groei saam in kleiner groepe wat uit die eredienste vloei (Matt 18:20)
- Getuienis: ons deel ons geloof in Christus met almal rondom ons (kol 4:5 en6)
- Gasvryheid: ons leef vriendelik en verwelkomend teenoor almal 1 Pet 4:9).
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'