KAROO NUUS - Dis dalk tyd om in die motorhuis of agterplaas 'n ou ietsie te begin stook. Finansminister Tito Mboweni het gister in sy begrotingsrede nie net 'n aksynsverhoging van 8% aangekondig vir wyn, vonkelwyn en brandewyn nie, maar voortaan sal jy 14c meer vir 'n bier betaal, 26c meer vir 'n bottel wyn en R5,50 meer vir 'n bottel hardehout.
Maar behalwe vir diegene wat graag 'n sopie geniet, is die aksynsverhoging volgens Vinpro-bestuurshoof, Rico Basson, die finale nekslag vir heelwat wynbesighede.
"Hierdie volg op die rug van 'n 16% loon- én 15% elektrisiteitsverhoging wat op plase geabsorbeer word. Ons en ander bedryfsorganisasies het in gesprekke met tesourie die benarde posisie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf benadruk, en versoek dat aksynsbelasting met nie meer as 50% van die verbruikersprysindeks gelig word nie."
Hy sê die realiteit is dat die aksynsverhogings nie noodwendig die verbruiker se sak raak nie, maar afgewentel word na wyndruifprodusente. Van 'n gemiddelde bottel wyn wat teen R45 verkoop, verdien die regering R10,04 uit aksynsbelasting en BTW, teenoor die wyndruifprodusent wat 'n netto boerdery-inkomste van 77c per bottel verdien.
Ander sondebelastings wat verhoog word is vonkelwyn (86c), pyptabak (47c/25g), sigarette (R1,39/20), sider (14c) en sigare (R7,71/23g).
Die brandstofheffing verhoog met 15c/liter en die padongelukfondsheffing styg met 11c van 7 April.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'