GRAAFF-REINET NUUS - 'n Uiters suksesvolle nagmark, deur Karoo Markets, is op 15 Desember by Coldstream, in Graaff Reinet aangebied. "Hierdie datum is spesifiek gekies, aangesien dit 'n baie besige naweek in Desember is en ons baie toeriste in Graaff Reinet verwag.
Alle gastehuise is gewoonlik vol bespreek met besoekers wat op pad see toe is en die nag in Graaff-Reinet oornag.
Die nagmark bied die geleentheid aan die besoekers om 'n draai te kom maak en gee ook ons plaaslike produsente blootstelling aan 'n wyer mark.
Karoo Markets fokus op plaaslike produkte wat gemaak en produseer word deur plaaslike produsente en wat self hul produkte te koop aanbied," sê Karen McEwan van Karoo Markets.
"Die mark was 'n reusesukses met talle buite besoekers," vertel Jean-Marie Gouws, wat van Somerset-Oos deurgery het om haar handgemaakte kerse te bemark.
"Plaaslike kliënte en gereelde mark-besoekers het die mark bygewoon en 'n verskeidenheid van kuns, houtwerk, natuurlike velsorg produkte, kerse, produkte geskep uit herwinbare materiale, plaaslike bokmelkkase, tuisgebak en gebottelde produkte, handgemaakte wol- en lapitems wat insluit speelgoed, voorskote, handsakke, 'n reeks kinderklere, keramiekitems en nog vele meer was deel van die verskeidenheid."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’