Update
GRAAFF-REINET NUUS - Die polisie het 'n deurbraak gemaak in die moord op 'n 60-jarige vrou, wie se lyk vier kilometer buite die dorp gekry is.
Die vrou is om 6.30vm Donderdag, 13 Junie langs die N9 in die rigting van Middelburg gevind.
Die polisie het reageer op 'n anonieme wenk, en haar met 'n oop wond aan die kant van haar kop gevind.
Vir 'n week het speurders dag en nag gewerk om haar identiteit vas te stel.
Graaff-Reinet se speurders het Woensdagoggend,
19 Junie, nog gevoel hulle gryp na grashalms, en was steeds in die donker oor die vermoorde vrou se identiteit.
Die antwoorde het toe uiteindelik gekom.
Haar identiteit, sowel as meer inligting oor die vrou, is aan die Advertiser bekend, maar word weerhou tot die familie in kennis gestel is van haar dood. Ons kan wel bevestig dat sy van die Oos-Kaap was, en oorleef word deur haar kinders. Kaptein Bradley Rawlinson, woordvoerder van die Graaff-Reinet SAPD, het die vermoorde aanvanklik as 'n blondekop vrou beskryf, maar aan die Advertiser bevestig dat haar hare 'n mengsel van blond en rooi is.
Die forensiese patalogiese eenheid het Woensdag 'n nadoodse ondersoek op die liggaam gedoen.
Enige iemand met inligting oor die moord kan Speurder Adjudant-Offisier Leon Weitz skakel op 082 301 8475.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'